PAASNAWEEK


‘n Jong vader is koelbloedig in sy huis vermoor. Die één plek waar ons elkeen verwag om veilig te wees. En dit is net van die nuus wat die koerante gehaal het.
Lewensvernietigende misdaad is nou so algemeen dat dit nie meer die nuus haal nie. Baie belangriker is nuus oor wat met sepie- en sportsterre gebeur.

En so is nog ‘n Paasnaweek verby, geïgnoreer deur talle wat nie eers meer weet waaroor Paasfees gaan nie en dit slegs sien as nog ‘n inkopie-geleentheid en Goeie Vrydag as die begin van ‘n lang naweek.

Tog is daar altyd ‘n verband tussen historiese gebeure en die huidige. Paasfees gaan ook oor menslike euwels. Die verhaal wat talle van ons kinders nie meer hoor nie, is vol van drama, waarin die mensdom alles wat sleg is in hom wys. Dit kon netsowel vandag plaasgevind het.

Daar is die wispelturige mop wat die Held die een dag verwelkom en die volgende dag Sy dood eis. Daar is verraad. Daar is lafhartigheid – vriende wat lewenslange lojaliteite beloof en hulle beloftes verbreek voor die oggend breek.

Daar is die politikus wat wetend die verkeerde ding doen om die gepeupel tevrede te stel en sy loopbaan te red en daarna sy hande in onskuld was.

‘n Onskuldige Man is vals beskuldig en oorgegee in die hande van gewetenlose folteraars. Dat dit alles die waarheid is, is maklik om te glo. Ons sien dit dan nog daagliks voor ons oë gebeur.

En alles eindig in wanhoop; die eerbare Man word nie gered nie en die gepeupel spot Hom tot aan Sy einde.

En as dit die einde van die storie was, wat anders kan ons verwag as ‘n herhaling van dieselfde temas in ons eie lewens – leuens, verraad, wantroue, geweld, onregverdigheid, uitbuiting, siniese magsaanbidding, regering met brute geweld. Dít is ons presiese situasie.

Dit is net dat dit nie daar geeïndig het nie. En as ons dit glo, kan ons altyd op iets beters hoop.

In die dae wat die Paasfees ‘n groot fees met ‘n sterk godsienstige strekking was, en Paasnaweek ‘n gewyde tyd van stille refleksie was, was dit asof ons ook nederiger was, meer barmhartig teenoor andere as teenoor onsself, en bewus daarvan dat ten spyte van al die onregte op die aarde, wag daar ‘n hoër oordeel wat ons werklik moet vrees, en ‘n hoër genade wat ons weer hoop gee.

Is daar enige rede waarom ons nie kan werk om dit weer te herstel nie?