Orchis italica of The Naked Man Orchid … raar maar waar


Hierdie naam pas nogal baie mooi by die blom van die Orchis italica. Dit is familie van Orchidaceae en word in Europa aangetref, in lande soos Portugal, Spanje, Italië, Griekeland, Turkye, Libanon, Israel, en Noord-Afrika.

Die plant is ’n bolplant en word tot 50cm hoog. Hy vorm ook baie bolle gedurende die jaar onder die grond. Dit is ’n geharde plant en nie gevoelig vir ryp nie. Hul verkies goed gedreineerde grond wat nie baie plantvoedsel bevat nie. Hy groei die beste in plekke waar hy genoeg oggendson kry en hou van water. Orchis italica blom oorvloedig van die lente tot in die somer en die blomme se kleur wissel van ligte pienk tot donker pienk en lyk sowaar na ’n mens. Slakke is lief vir die plant, so let maar op daarvoor. Indien die plant uitgehaal en verskuif word na ’n ander plekkie in die tuin sal hy heel moontlik lank vat om te herstel of doodgaan. Hy kan egter verskuif word wanneer hy dormant is. Die beste is om hom van saad te kweek.

Orchis italica se wortels kan gekook word wat dan gedroog word en wanneer fyngemaak word, vorm dit ’n geel/wit poeier wat soos stysel lyk en met ’n soeterige smaak, maar is ietwat onwelriekend. Die volke wat gebruik reken dit kan gebruik word om brood mee te bak.

Geniet u tuin en plante wat nog so mooi is hierdie tyd van die jaar, tot volgende keer