Onderwys staking van enige waarde?


Hoofsaaklik swart onderwysers wat lede is van die vakbond Sadtu het Woensdagoggend in Marabastad begin saamkom om ’n opmars na die Uniegebou te begin. Dit vorm deel van Sadtu se landswye staking.

Busse met Noord-Transvaalse nommerplate is reeds opgemerk tussen die ander wat in ’n oopte tussen Bloed- en Strubenstraat parkeer het.

Ongeveer twaalf polisievoertuie is in die nabyheid opgemerk.

Die vakbond sê hulle verwag 25,000 lede wat die opmars na die Uniegebou in Pretoria en na die parlementsgebou in Kaapstad sal deelneem.

Die doel van die betogings is om druk op Minister Angie Motshekga, en direkteur-generaal, Bobby Soobrayan, te plaas om te bedank.

Sadtu-lede neem deel aan ‘n sloerstaking sedert leerders ná die Paasvakansie teruggekeer het skool toe.

’n Voormalige dosent en gesaghebbende in die onderwys het aan Die Vryburger gesê dit is opvallend dat blanke onderwysers rustig voortgaan om hulle werk te doen, wel wetende dat dit die enigste manier is hoe goeie eindresultate deur die leerlinge bereik kan word.

Stakings sal nie die leerlinge laat slaag nie, het hy gesê.