Omstredenheid rondom nuwe aanstelling


Berigte doen die rondte dat pres. Jacob Zuma ’n landdros met hangende klagte teen hom as die nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) wil aanstel.

Indien Zuma dit wel doen, sal dit nog ’n oortreding van die Grondwet wees, is die mening van kenners.

Ene Stanley Gumede, ’n landdros van Pinetown in KwaZulu-Natal, gaan blykbaar binnekort as NDOV aangestel word te midde van verskeie klagtes teen hom waarvan min besonderhede bekend is.

Hy is tans ’n landdros in Pinetown buite Durban maar is oorspronklik van Eshowe, ’n klein entjie van Zumaville vanwaar die president kom.

Die NDOV is die hoof van Openbare Vervolging en derhalwe is dit ’n posisie waarvan die posbekleër van onberispelike karakter moet wees vanweë die geweldige mag wat aan die pos gekoppel is.

Daar is meer as een geval bekend waar die wenkbroue gelig het vanweë die besluite wat deur die NDOV geneem is. Hiervan is die bekendste die geval toe adv. Mokotedi Mpshe, as waarnemende NDOV, klagtes van korrupsie teen Zuma laat vaar het.

Zuma het ’n vorige aanstelling gemaak wat ongeldig verklaar is deur die hof toe hy adv. Menzi Simelane aangestel het.
Dieselfde kan nou weer gebeur as Stanley Gumede aangestel word.