Nuwe wending in koerantbedryf


Die ontwikkeling op tegnologiese gebied het die gedrukte media met ’n donderslag getref.

Die liggelowiges het met ’n frons neergesien op die koms van Die Vryburger as e-koerant. Doemprofete het voorspel dat dié koerant nooit lewensvatbaar sou word nie, en allermins volhoubaar staande sou bly teen die groot reuse wat daagliks hulle koerante op straat laat verskyn nie.

En toe kom die werklikheid soos ’n donderslag op almal neer. Die Vryburger stel die voorbeeld van wat volhoubaar gaan wees vir vandag tot in die vêrste toekoms. Die e-koerant het gekom om te bly!

Nou gaan die koerante, wat tradisioneel op straat, in winkels en kafees verkoop word, almal die voorbeeld van Die Vryburger volg, maar met een baie groot verskil: Jy gaan betaal om die koerante op die internet te lees.

Daar mag dalk ’n dag aanbreek wat Die Vryburger ook ’n inteken fooi sal hef, maar dit gaan beslis nie wees soos hierdie ander koerante wat R99 per maand hef nie!

Daar is dus geen rede waarom lesers nie eerder die nuus van die dag in Die Vryburger kan bekom nie – dit is gratis en verniet – of sal ons sê dit is Vry!