Nuwe skelmstreek: wees gewaarsku


Oranje Sake Instituut waarsku verbruikers teen die nuwe slenter wat skelms gebruik om mense se inligting te bekom.

Die jongste streek van skelms is dat mense wat rekenaars by die huis gebruik, geteiken word. Hulle word telefonies gekontak onder die naam van gevestigde sagteware ondernemings en winkels.

Die sogenaamde “winkels” stel die slagoffer in kennis dat sy rekenaarstelsel foutief is.

“Hierna word die slagoffer daarop gewys dat sy stelsel vinnig reggestel kan word. Die slagoffer moet dan persoonlike inligting bekend maak en kwaadwillige sagteware (malware) moet afgelaai word op die slagoffer se rekenaar,” vertel Susan Potgieter, hoof van Sabric se handelsmisdaadtak.

Misdadigers kry dan toegang tot die slagoffers se inligting en kan dan geld uit hul bankrekeninge onttrek.

Oranje Sake Instituut maan sy lede om onder geen omstandighede enige persoonlike besonderhede per e-pos of telefonies aan onbekendes te gee nie.