Nuusflitse


• Regter Bill Prinsloo het in die Pretoriase hooggeregshof beveel dat Pretoria se ou straatname weer op straatnaamborde aangebring moet word. Dit sal die munisipaliteit sowat R3 miljoen kos om die borde terug te sit in die 3 maande tyd wat daarvoor toegelaat is deur die hof. Intussen het die Munisipaliteit besluit om te appelleer.
• Die polisie het ná ‘n grootskaalse soektog die tweede verdagte vasgetrek in verband met die ontploffings by die Boston-marathon. Hy kan nie praat nie weens die skade wat ’n koeël aangerig het in sy mond toe hy probeer het om selfmoord te pleeg
• Die algemene sinode van die NG Kerk sal na verwagting in Oktober vanjaar die vraag formuleer wat gemeentes en streeksinodes sal moet beantwoord oor die moontlike opname van die Belydenis van Belhar in die kerk se belydenisgrondslag. Só het prof. Nelius Niemandt, moderator van die algemene sinode gesê
• Die munisipaliteit van Brits het twee houtpale van sowat 11 meter lank op hul bateregister aangedui met ’n waarde van meer as R3 miljoen terwyl kenners in die hout bedryf sê die twee pale is saam, hoogstens R1,500 werd.
• ’n Diereregte-aktivis is gearresteer toe sy ’n werker van die Brian Boswell-sirkus in Verwoerdburg aangesien het vir Boswell, die eienaar, en hom teen die bobeen geskop het. Dit was tydens ’n betoging deur sowat 200 diereregte-aktiviste wat ontevrede is oor die gebruik van wilde diere in ’n sirkus.
• ‘n Franse matroos het oorleef nadat hy ‘n krokodil wat hom in die noorde van Australië aan die kop beetgekry het, herhaaldelik en aanhoudend geslaan het.
• Vier bomdeskundiges is dood en nog vier is ernstig beseer toe ‘n bom by ‘n weermagbasis in Thailand ontplof het terwyl hulle dit wou ontlont.
• n Man het vyf mense, insluitend ‘n 14-jarige meisie, buite ‘n jaggeweer winkel in Belgorod, Rusland doodgeskiet. Die man het drie van die winkel se werknemers en twee lede van die publiek net buite die winkel doodgeskiet.
• Die tweemalige Olimpiese medaljewenner Arkady Vyatchanin gaan nie meer vir Rusland swem nie en het besluit om ‘n ander land in die swembad te verteenwoordig. Die swemmer sal later besluit watter land hy gaan verteenwoordig.
• Julius Malema, voormalige ANC-jeugleier, het in die streekhof te Pietersburg op aanklagte van korrupsie, bedrog en rampokkery verskyn. Die saak is uitgestel tot ’n later datum.
• ’n Man en sy skoonsuster was besig om twee kinders (onderskeidelik 5 en 7 jaar) by die kruising van Rocky- en Weststraat in Strydom Park oor die pad te begelei toe hulle almal deur ‘n goudkleurige VW Golf 5 getref is. Volgens ooggetuies het die bestuurder van die Golf ná die ongeluk weggejaag en hy kon nie gestop word nie.
• ‘n Nederlandse hof het ‘n diplomaat tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy vertroulike dokumente van Navo en die Europese Unie aan Russiese agente gegee het.
• ’n Video van ’n jong leeuwyfie in ’n kamp wat van ’n bakkie af met ’n pyl en boog geskiet word, laat die bloed van jagters, wildtelers, bewaringsbewustes en aktiviste kook. ’n Soektog is aan die gang na die boogskutter sodat hy vervolg kan word. Hy het die video vermoedelik self op YouTube geplaas.
• Die polisie het vier Nigeriese mans, wat bedrieglike SMS’e aan duisende Suid-Afrikaners gestuur het, in ’n klopjag by ’n woonkompleks in Rooihuiskraal-Noord naby Verwoerdburg in hegtenis geneem.
• Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) probeer ’n pa help om sy seun se rolstoel terug te kry wat voorverlede Saterdag op Loftus gesteel is tydens die Bulle se kragmeting teen die Cheetahs.