Nuusflitse


• Elmari Barnard kan nie haar baba registreer nie omdat sy volgens die Departement van Binnelandse sake getroud is, hoewel sy reeds tien jaar gelede geskei is.
• Foutiewe lugsakke in Japanese voertuie kan meebring dat bykans 3 miljoen voertuie terug geroep moet word vir regstelling van die probleem. Die vier vervaardigers is Toyota, Nissan, Honda en Mazda. Twee vervaardigers het reeds begin met die terugroep proses.
• ’n Bedrywige span navorsers, veld-assistente, weerkundiges en ingenieurs het aan boord van die SA-Agulhas II gegaan vir die jongste vaart na Marioneiland.
• Jacob Zuma moet ophou om agter apartheid te skuil as verskoning vir sy regering se onvermoë om werkloosheid en swak onderwys te takel. Pogings om die rede vir dié mislukkings voor die deur van apartheid te lê, trek net die regering en die publiek se aandag af van die noodsaaklikheid om realistiese oplossings te kry, sê FW de Klerk.
• Pres. Obama se opmerking dat Prokureur-Generaal Harris by verre die mooiste een is, het in sy gesig ontplof toe derduisende mense regoor die wereld hom op die sosiale netwerk ernstig gekritiseer het vir dié onvanpaste opmerking. Hy was gevolglik verplig om die dame ’n verskoning aan te bied.
• Die Suid-Afrikaanse regering en die burgerlike gemeenskap moet wakker wees en proaktief optree om dié land se olifante teen stropers te beskerm, het die Wildlife and Environment Society (Wessa) gewaarsku.
• Die byna R137 miljoen wat Margaret Thatcher (87) se begrafnis gaan kos, is erg omstrede in Engeland. Tim Ellis, Anglikaanse eerwaarde van Thatcher se tuisdorp, Grantham, het gesê dié diens is ’n fout omdat daar te veel geld bestee word.
• Eskom betaal meer aan BHP Billiton vir die steenkool wat nodig is om een kilowatt elektrisiteit op te wek as wat BHP Billiton per kilowatt vir sy aluminiumsmelters betaal. BHP Billiton maak dus meer geld uit Eskom as wat hy aan Eskom moet betaal vir krag.
• Die ergste haelbui in meer as twee dekades in die Goudveld, het die naweek verwoesting gesaai. Huise se plafonne het ingeval, dakke het gelek, plante is verwoes en verskeie ongelukke het met die gladde ys op paaie in en om Welkom voorgekom. Die haelbui het ook op Virginia en op Bultfontein uitgesak en skade berokken.
• Venezuela se waarnemende president, Nicolas Maduro, vier sy oorwinning in dié land se verkiesing. Hy is aangewys as die ontslape president, Chavez, se opvolger toe hy 50,66% van die stemme op hom verenig het.
• Minstens 17 inwoners is die naweek in Bangui, hoofstad van die Sentraal-Afrika Republiek (SAR), in skermutselings tussen gewapende rebelle en inwoners gedood.
• ’n Sekuriteitswag lê met brandwonde in die hospitaal nadat hy deur die weerlig getref is in die naweek se donderstorm wat dele van die stad Kimberley onder krag gelaat het.
• ‘n Sterk aardbewing het Iran getref, en skuddings is tot in Indië en die Midde-Ooste gevoel en volgens die Amerikaanse Geologiese Opname het die aardbewing 8,0 gemeet – dit is sterk genoeg om erge skade aan geboue aan te rig.
• Die sukkelende TopTV, wat tans in ‘n ondernemingreddingsproses is en probeer om bankrotskap te vermy, gaan wegdoen met nog twee van sy kanale. Digital Media (ODM), wat TopTV bedryf, het gesê die uitsaai van Top Junior en Top Movies sal op Woensdag 17 April gestaak word.
• Die Sharks het berigte bevestig dat die voormalige Springbok-kaptein John Smit as uitvoerende hoof van die Sharks aangestel is.
• Die laer oliepryse en ’n stewiger Rand kan dalk daartoe bydra om volgende maand groter verligting met die brandstofpryse te bring as wat aanvanklik verwag is.
• Die twee polisielede wat in 2010 in ’n onderonsie met Winnie Mandela en haar lyfwagte betrokke was, is vrygespreek op al die aanklagte van intimidasie, die rig van ’n vuurwapen en aanranding.
• Die inwoners van Witbank kla oor die water wat nie suiwer is nie – klein wurms kom deur die krane en soms is die water modderig. Die betrokke afdeling van die munisipaliteit beantwoord ook nie die foon om die klagtes aan te hoor nie.