Nuus wat saakmaak


Lesers kan in hierdie uitgawe weer kennis neem van die onreg teenoor mnr. Clive Derby-Lewis wat nie vrygelaat gaan word op parool nie. Die siening is dat hy nie verskoning gevra het vir sy aandeel aan die moord op Hani nie, en dat die volle waarheid oor die saak nog nie bekend gemaak is nie.

Dit blyk noudat mnr. Derby-Lewis se regsadviseur hom oorreed het om verskoning aan te bied in die hoop dat hy vrygelaat sal word om die laaste jare rustig saam met sy geliefdes deur te bring.

Derby-Lewis is ’n sieklike man wat dit verdien om vrygelaat te word.

Die slegte nuus van nog twee volksgenote wat die aanval op hulle lewens nie oorleef het nie word in twee afsonderlike berigte vervat, waarvan een berig volledig omskryf is. Die inligting is verstrek deur iemand wat persoonlik die voorval beleef het.

Lees gerus die berig oor die jong seun wat sy broertjie gered het uit ’n brandende huis.

Die heengaan van mev. Thatcher het reaksie oor die ganse wereld ontlok. Sy het immers goeie werk gedoen in belang van haar land. Sy het haarself ongewild gemaak by vakbonde en steenkoolmyn werkers omdat sy die greep wat hulle op die land se ekonomie gehad het, finaal gebreek het. Vandaar ook die bynaam as Ystervrou.

Margaret Thatcher sal ook onthou word vir haar deurlopende goedgesindheid teenoor Suid-Afrika toe die wereld teen die land gedraai het. Dit beteken nie dat sy alles gedoen het waarvan ons volk gehou het nie – maar sy was immers eerlik in haar oortuigings.

As ’n aanval op Sue van der Merwe, ’n ANC-LP, bykans ’n einde aan haar lewe bring, dan bevestig dit een ding, sy is soos enige ander blanke, ’n teiken van mense wat haat en moorddadig en moordlustig is.

Daar is ook ’n brokkie humor te vinde oor die Midrand polisiestasie wat die lagspiere sal roer.

Suid-Afrika het ook rede tot kommer. Lees gerus wat gaande is by drie van die land se grootste munisipaliteite en in ander berigte wat gebeur met die SANW in die noorde van Afrika, asook die kommer oor dwelmsmokkelaars wat die land oorneem.

Getrou aan die slagspreuk, “Nuus wat saakmaak”, het ons nog veel meer wat die leser op hoogte van gebeure sal bring.

Redakteur