Neem Texas ‘n verdere stap tot sesessie?


Waarnemers meen dat Texas ‘n verdere stap in die rigting van sesessie geneem het met die Goewerneur se aankondiging dat hulle self hulle goud wil berg.

Die Goewerneur van Texas, Rick Perry en Republikeinse verteenwoordiger Giovanni Capriglione is besig om die Fort Knox van Texas te beplan waarin hulle hulle goud sal bewaar.

Giovanni het ‘n wet voorgestel waarin ge-eis word dat die $1biljoen goudstawe wat aan die University of Texas Investment Management Co. (UTIMCO) behoort en tans deur die Federale Bank geberg word, na Texas teruggebring word.

In ‘n radio-onderhoud het Perry gesê dat: ” … as dit ons eiendom is, is dit nie aan iemand anders se besluit onderhewig as ons dit wil terugbring nie.”

Voormalige Republikeinse verteenwoordiger, Ron Paul het verlede week aan die Texas Tribune verduidelik dat die goud veiliger op Texas se bodem sal wees.
“As jy dink dat dat goud ‘n waarborg of beskerming is, is dit vanselfsprekend dat jy dit naby aan jou wil hê,” het hy gesê. “Die staat van Texas sal beter gedien word as hulle presies weet waar die goud is i.p.v. om hulle op die sekuriteit van die Federale Bank te moet verlaat.”

Capriglione het gesê talle besigheidsmense wil in Texas belê en vir hulle is stabiliteit en goud belangrik. “Ons soek nie goudsertifikate nie. Ons wil ons goud hê en as jy in die staat van Texas is, behoort jy in staat te wees om jou hande op jou goud te lê.

Tangent Capital Partners se besturende direkteur, Jim Rickards het verlede Donderdag in Yahoo Finance gespekuleer dat die skepping van ‘n Fort Knox in Texas mag ‘n stap wees waarin die staat ‘n onafhanklike geldeenheid gaan skep en daarna van die VSA mag afskei.

Volgens hom bevat die voorgestelde wet ‘n klousule wat vir die federale regering sê dat sou julle poog om Texas se goud te konfiskeer sal ons dit as nul en nietig beskou. “En onder die 10de Amendement van die Konstitusie, het hulle daardie mag,” het hy gesê.

In November verlede jaar het meer as 100 000 mense van Texas ‘n petisie geteken waarin hulle onafhanklikheid gevra het. Perry het toe uitdruklik standpunt teen enige sprake van sesessie ingeneem.