Motor rubriek – Volvo V40 Cross Country


Die nuwe Volvo V40 Cross Country is aan die motor publiek bekendgestel tydens ’n internasionale motor byeenkoms in Swede wat onlangs plaasgevind het.

Die rede hoekom die voertuig daar bekendgestel is, is sodat sy vermoë op die ys duidelik geopenbaar kon word. Al vier wiele word gebruik vir die aandrywing van hierdie voertuig. Die model wat gebruik is vir die bekendstelling is die T5 wat 188 kW ontwikkel met ‘n wringkrag vermoë van 400 Nm. Wanneer daar ernstig versnel word, is daar nog ’n bykomende 40 Nm. beskikbaar. Volgens die vervaardiger kan die brandstofverbruik vir hierdie model, 8,3 L/100 km wees.

Op papier is dit ’n baie indrukwekkende voertuig. Hy is beskikbaar met ’n sesspoed outomatiese ratkas en besit die vermoë om van 0 tot 100 km/u in 6,4 sekondes te versnel. Op die ys-oppervlakte het die T5 indrukwekkend vertoon en die kraglewering was van hoogstaande gehalte. Ratwisseling het glad verloop en die sesspoed outomatiese ratkas se skakeling pas goed aan by die kraglewering van die enjin.

Binne die volgende aantal weke sal die motor ook in Suid-Afrika bekendgestel word. Volgens die verspreiders sal daar ses verskillende modelle beskikbaar wees met vier enjin opsies. Met voertuie soos die Nissan Juke en Mini Countryman in hierdie klas, behoort dit interessant te wees om te sien wat die motor publiek se reaksie sal wees.