Motor rubriek – Volkswagen Golf 1,4 TSI


Daar is met groot verwagting uitgesien na die bekendstelling van die nuwe Golf 7 reeks. Sy voorganger het ’n kortstondige lewe gehad terwyl die 7 reeks na verwagting ’n ses jaar model lewe gaan beleef.

Daar is duidelike veranderings sigbaar en wanneer in gedagte gehou word dat die Golf reeks alreeds 40 jaar oud is, moet dit inderdaad ’n besonderse voertuig wees. Die jongste model het ’n wielbasis wat 57mm langer is en dit is 13mm breër. Dit is ook 28mm nader aan die grond as sy voorganger.Die ontwerp is van so ’n aard dat dit 100 kg ligter weeg as die Golf 6 wat dit vervang terwyl dieselfde platform as die Audi.gebruik word.

Die standaard toerusting sluit ’n lang lys van gerieflike toerusting in waarvan ’n leer-bedekte stuurwiel een is. Die binne pas-en-afwerking van die voertuig is van hoogstaande gehalte en vergelyk goed met voertuie van ’n hoër prysklas. Daar is voertuie in dieselfde prysklas wat meer pakruimte het maar die laairuimte is 17mm laer as die vorige model wat daartoe lei dat die laai van goedere makliker geskied.

Die enjin is aangepas en ontwikkel 90 kW en dit is gekoppel aan ’n sesgang handratkas of ’n sewegang DSG ratkas. Krag voorsiening verloop glad en 200Nm wringkrag is reeds teen 1500 opm. beskikbaar. Die turbo aangejaagde 1395 cc enjin se brandstof verbruik is ’n uitsonderlike syfer van 6,24 l/100km.

Van die fokuspunte van hierdie voertuig was binne gerief en rygerief.