Motor rubriek – Volkswagen Amarok – 4 April 2013


Die bakkiereeks in Suid-Afrika bestaan uit ’n wye verskeidenheid van modelle. Die nuutste toevoeging tot die reeks is die Volkswagen Amarok dubbelkajuit outomaties. Aanvanklik het die Amarok nie ’n outomatiese model ingesluit nie maar Volkswagen het besef dat ’n 4×4 outomaties eintlik ’n noodsaaklike model is en nie op hulle laat wag nie en dit is bekend gestel.

Deur die wringkrag van die nuwe bakkie te verhoog is dit nou in lyn met die opposisie. Die tegniese spesifikasies sien nou soos volg daaruit. Twee-liter enjin met dubbel turbo’s en die krag is verhoog van 120 Kw. tot 132 Kw. Dit is ’n aansienlike verhoging en het tot gevolg dat die wringkrag verhoog het na 420 Nm.

Een van die dubbel turbo’s doen die aanjaag werk na die ander een en dit verseker dat daar nie ’n “dooie” kol is in die kraglewering nie.

Die bakkie is nou beskikbaar met ’n 8-spoed outomatiese ratkas wat permanent in 4×4 is. Daar is dus nie ’n behoefte aan laestrek ratkas nie. Die eerste twee ratte is laag genoeg gerat om die werk te verrig. ’n Verdere gerief is dat dit ook in Tiptronic gebruik kan word. Wanneer dit geskakel word kan dit in ’n rat keuse van die bestuurder geplaas word en dit verander nie van rat nie.

’n Ander funksie wat die Amarok het staan bekend as “off-road mode”. ’n Knoppie langs die rathefboom word gedruk en die ABS-remme word outomaties aangepas vir veldry toestande. Wanneer daar teen ’n steil afdraande afgery word kan die versneller tot op die keuse van die bestuurder ingetrap word en wanneer die versneller dan gelos word, word die snelheid behou.

’n Ewenaar slot is ook standaard toerusting en is baie gerieflik wanneer nie op die normale paaie gereis word nie.

Met bogenoemde in gedagte is dit dus duidelik dat die Amarok ’n “lekker bederf” voertuig is.