Motor rubriek – Mercedes Benz SL65 AMG – 11 April 2013


Die nuutste toevoeging tot die Mercedes Benz reeks, is die Mercedes Benz SL 65 AMG. Die SL reeks is ’n ou bekende aan die motor liefhebber. Die eerste model is in 1954 vervaardig en sedertdien is daar van tyd tot tyd aanpassings gedoen.

Die heel nuutste model is inderdaad ’n uitstaande motor. Die reeks staan bekend as die R231 en drie verskillende enjins is beskikbaar en is onderskeidelik die 4,7 liter V8 of te wel die 500, die baie gewilde 5,5 liter V8 beter bekend as die AMG SL 63 en dan die 6,0 liter V12 Bi-turbo petrol enjin wat in die SL65 AMG gepas is.

Met 463 kW en ’n 1000N.m. wringkrag beskikbaar, is dit tot groot hoogtes instaat. Die versnelling van 0 tot 100 km/u. neem volgens die vervaardiger, slegs 4,0 sekondes en verder is dit instaat tot ’n maksimum snelheid van 300 km/u.

Die binne ontwerp is van uitstaande gehalte. Deur twee sitplekke te installeer is daar aansienlike pakplek beskikbaar. Dit is beskikbaar met ’n hardekap wat deur die druk van ’n knoppie, agter die sitplekke inskuif. Wanneer die hardekap in plek is, is die uitlaat klank goed gedemp en is die rygerief van hoogstaande gehalte. Te midde van die moderne kajuit uitleg, bevestig die AMG logo wat op die rathefboom verskyn, dat hierdie motor eintlik ’n monster verteenwoordig.

Wanneer versnel word en die motor skakel van tweede na derde rat oor, word ’n “band glip” geluid gehoor. Die motor se bakwerk is stewig saamgestel en die draai vermoë is uitstekend. Die pad stabiliteit is goed, danksy ’n verstelbare lug suspensie.

Die vervaardiger prys is tans R2,681,000 en dit verteenwoordig ’n motor van ’n besondere aard.