Motor rubriek – ISUZU KB


In Suid-Afrika is die bakkie-mark baie gewild want Suid-Afrikaners is tradisioneel natuurliefhebbers. Daar is ’n wye reeks bakkies beskikbaar en daaruit kan gekies en gekeur word.

Die heel nuutste op die in die mark is die immer gewilde Isuzu KB reeks. Hierdie dubbelkajuit bakkie is die sesde generasie Isuzu en alle aanduidings is daar dat dit soos sy voorganger, ook ’n sukses gaan wees. Die nuutste Isuzu skep die indruk dat dit ’n klein voertuig is aangesien die hoogte slegs 1790 mm is. Die asafstand het gegroei en is nou 45 mm langer. Die afstand tussen die voorwiele het ook vergroot en is tans 50 mm verder uitmekaar. Dit het tot gevolg dat die ontwerpers die kajuitruimte aansienlik kon vergroot wat meer rygerief verseker. Verder is daar ook meer beenruimte vir die passasier by die tweede sitplek.

Die vorige model was geïdentifiseer as ’n ontspanningsvoertuig. Die nuutste toevoeging verhoog daardie indruk en alle aanduidings is reeds daar dat die natuurliefhebbers dit terdeë gaan geniet.

Die nuwe voertuig het ’n lang lys van veiligheidstoerusting waar onder ABS remme, ses lugsakke en nog talle ander items verskyn. Ongelukkig is daar nie elektroniese stabiliteit-of trekkrag beheer beskikbaar nie.

Die vorige model se 3.0 liter, direkte-inspuiting enjin is oorgedra maar verskeie opgraderings het plaasgevind. Dit is veral gesentreer om die turboaanjaer, brandstofinspuiting stelsel en ’n groter tussen-koeler. Die kraglewering het verhoog met 10 kW tot 130 kW en die wringkrag het met 20 N.m. verhoog na 380 N.m.

Die bakkie se rygerief is in ’n klas van sy eie en die vervaardiger beweer dat dit ’n gewig van 3500 kg kan skuif. Die grondvryhoogte is 220 mm en vergelyk goed met sy mededingers.