Met hartseer


Dit is met hartseer dat volksgenote moes kennis neem van twee jongmense wat in afsonderlike gevalle besluit het om ’n einde aan hulle lewe te maak. Albei woonagtig in Bloemfontein.

Daar is ook baie hartseer dat Die Vryburger weereens berig oor die mense wat hulle lewens verloor het weens aanvalle deur terroriste.

Die wereld is geskok oor die bomontploffings in Boston. Twee mense van Suid-Afrika het ook beserings opgedoen in die terreur daad. Wat egter vreemd bly vir Boere-Afrikaners, is die feit dat hulle nie dieselfde skok-simptome openbaar oor die volksmoord wat hier plaasvind nie.

Veiligheidsmaatreëls word opgeskerp vir die Londen-maraton wat hierdie komende naweek plaasvind..

Lees gerus hoe polisiebeamptes hulleself verryk met foto’s, hoe een persoon as afrigter sterf in ’n fratsongeluk met ’n olifant. ’n Ander persoon word vervolg oor sy verkeerde hantering van ’n sirkus olifant en ’n derde het ’n noue ontkoming toe ’n olifant sy voertuig takel.

Dit is goed om te lees van ONOK se beplande hulp aan Majuba Trust. Sulke nuus maak ons mense opgewonde. Dit moedig ook mense aan om direk betrokke te raak, hetsy by ONOK of by Majuba Trust.

Die swak smaak wat ’n kunsskilder van die Vrystaat openbaar, verdien die kritiek wat lesers daarop sal lewer. Sulke optrede is gewoonlik ’n bedenklike manier om jou naam bekend te stel en waarskynlik met die doel om die sogenaamde kunswerk verkoop te kry.

Dat kettingwinkels nie heeltemal onskuldig is oor die vleis-debakel nie, staan vas en seker. Die verskonings wat gemaak word, is onaanvaarbaar. As daar met kos gewerk word wat die publiek ten duurste moet koop, dan is een vereiste ononderhandelbaar: Netheid en presiesheid – in alle opsigte.

Besoek gerus Die Vryburger se volledige e-koerant by www.dievryburger.co.za want daar vind u al die nuus wat werklik saakmaak.

Laastens ’n verskoning aan ons lesers: Verlede week was die verloop van sake by Die Vryburger ietwat ongewoon – en dit het talle tikfoute tot gevolg gehad. Hiervoor ons opregte verskoning.

Die spreekwoordelike “drukkersduiwel” besoek ons gereeld, maar verlede week het hy met ’n krulstert kom rondstap op ons werf…. Dit is ook deel van ons hartseer!

Redakteur