Merino ooi lewer 21 kg wol


Dollie. ’n merino skaap van Loxton in die Noord-kaap is vir die eerste keer in ses jaar geskeer en het ’n pragtige vag wol van 21 kg gelewer.

Gewoonlik is skape wat lank met hul wol loop sonder om geskeer te word, aansienlik kleiner as die res van die trop. Dollie was egter goed versorg en het die skaal op 52 kg getrek nadat die 21 kg wol afgeskeer is.

Die skaapskeerder wat normaalweg 2 tot 3 minute neem om ’n skaap te skeer, het byna ’n halfuur lank geskeer om Dollie se vag in goeie toestand af te skeer.

Kenners was baie verbaas dat Dollie net so spekvet soos haar maters is en dat die wol nie ’n breuk gehad het soos wat gewoonlik met sulke lang wol die geval is.
.
Dollie se eienaar, Henk Cloete, het gesê hy wil Dollie, wat hans grootgemaak is, se wol aan liefdadigheid skenk.