Kuberkraker saai paniek


‘n Kuberkraker het op Twitter van die Associated Press (AP) amok gemaak met ’n vals berig dat Barack Obama in ontploffings by die Withuis beseer is.

AP het enkele minute na die vals berig op internet geplaas is, aangekondig dat sy Twitter-profiel gekraak is. Die nuusagentskap se Twitter-rekening is kort daarna opgeskort.

’n Woordvoerder van AP het erken dat hul Twitter-profiel gekraak is.

‘n Woordvoerder vir die Withuis, Jay Carney, het kort daarna aangekondig dat die president wel is en dat daar geen ontploffing by die Withuis was nie.

Dié voorval het glo paniek op Wall Street veroorsaak. Die Dow Jones-nywerheidsindeks het met sowat 140 punte geval, maar kort daarna weer herstel.

Die vals berig wat op Twitter verskyn het was: “Ontvouende nuus: Twee ontploffings by Withuis en die president is beseer.”