Korea – agtergrond


Wat sit en is agter berigte van die afgelope paar weke waarin daar allerhande oorlogspraatjies is?

Die New York Times berig dat die leier van Noord-Korea, Kim Yung-un sy mense beveel het om hulle gereed te maak vir ‘n aanval op die VSA. Vroeër die maand het van sy generaals gespog dat hulle ‘n atoombom wat op ‘n langafstand missiel pas, ontwikkel het.

Die VSA is bewus van die feit dat die uitsprake uit Noord-Korea nie deur sy militêre krag ondersteun word nie, maar lewer nie te min kommentaar wat die spanning verhoog. Suid-Korea se President Park Geun-hye weet ook dat die dreigemente bloot retories is, maar verklaar nietemin dat hulle “sterk en onmiddellik sal terugslaan as daar voldoende provokasie is.”

Duidelik het Amerika ‘n ander doel vir oë en daarvoor moet ‘n mens terugkyk op die geskiedenis.

Sedert die einde van die oorlog in Korea, sestig jaar gelede, het die Arbeidersparty van die Demokratiese Republiek van Korea (DPRK of Noord-Korea) jaarliks die volgende vier voorstelle aan die VSA voorgelê, nl:
1. ‘n Vredesverdrag wat die Korea-oorlog sal beëindig; (hou in gedagte dat daar nog steeds nie ‘n vredesverdrag met Duitsland aangegaan is nie.) 2. Die re-unifikasie van Korea wat tydelik in Noord en Suid sedert 1945 verdeel is. 3. ‘n Einde aan die besetting van Suid-Korea deur die VSA en ‘n beëindiging van die jaarlikse maandlange VSA-Suid-Korea oorlogspeletjies. 4. Bilaterêre samesprekings tussen Washington en Pyongyang om ‘n einde te bring aan die spanning op die Koreaanse peninsula.

Hierdie voorstelle is jaarliks deur die VSA en sy Suid-Koreaanse protektoraat verwerp. Gevolglik is die peninsula sedert die 1950s steeds onstabiel. Dit het nou so ver gegaan dat Washington vanjaar tydens sy oorlogspeletjies in Maart vanjaar, twee B-2 kernvliegtuie oor Noord-Korea laat vlieg het. Drie dae later het Washington F-22 vegvliegtuie na Suid-Korea gestuur om die spanning verder te verhoog.

Die rede vir die voorstelle van Noord Krea is die volgende:
1. Die VSA weier om ‘n vredesooreenkoms te teken wat ‘n einde sal maak aan die Korea-oorlog. Die VSA het slegs tot ‘n wapenstilstand toegestem. Die wapenstilstand wat op 27 Julie, 1953 onderteken is, was veronderstel om die eerste stap in ‘n vredesverdrag te wees. Omdat daar geen vredesverdrag is nie, beteken dit dat die oorlog enige oomblik voortgesit kan word. Noord-Korea wil nie in oorlog met die VSA gewikkel wees nie, die geskiedenis se magtigste oologmasjien. Hulle soek ‘n vredesverdrag en diplomatieke erkenning van Washington.
2. Die twee Koreas is die produk van ‘n ooreenkoms tussen die Sowjetunie destyds (wat grens aan Korea en gehelp het om die noordelike gedeelte van die land van Japan te bevry tydens die Tweede Wêreldoorlog) en die VSA wat die suidelike deel beset het. Hoewel ‘n sosialistiese regering in die noorde en ‘n kapitalistiese een in die suide ingestel was, was die bedoeling nie dat dit ‘n permanente verdeling sou wees nie. Die veronderstelling was dat die twee groot super-moondhede later sou onttrek en dat die land weer sou verenig. Rusland het onttrek maar die VSA nie.
Daarna was die vernietigende oorlog van 1950. Sedertdien het Noord-Korea talle voorstelle gemaak om die verdeling wat sedert 1945 geheers het. te beëindig. Die jongste voorstel is een land, twee politieke stelsels. Dit beteken dat die noorde sosialisties bly en die suide hulle kapitalisme behou. Hulle glo dat hoewel dit moeilik sal wees is dit nie onmoontlik nie. Washington weier want hulle wil die hele peninsula beheer wat hulle militêre masjienerie op die grens van Sjina en Rusland plaas.
3. Sedert die einde van die oorlog hou Washington steeds tussen 25 000 en 40 000 troepe in Suid-Korea. Hulle is saam met die Amerikaanse vloot en kernkrag wapenbasisse baie naby aan die peninsula wat twee dinge sê: “Ons kan die noorde vernietig” en “ons besit Suid-Korea.”
4. Die oorlog in Korea was ‘n konflik tussen die DPRK en die VSA. Hoewel ander nasies ook geveg het, was die VSA in beheer en die dominante land in die gevegte waarin miljoene Koreane noord van die verdelingslyn gesterf het. Dit is dus genoegsame rede vir Pyongyang om direk met Washington te praat.
Washinton steur hom steeds niks aan hierdie versoeke tot samesprekings nie. Nie omdat hulle teen die sosialisme van die noorde is nie. Nee, Noord-Korea is te nasionalisties en die VSA eis lojaliteit aan die VSA. Boonop gee dit vir die VSA genoeg rede om sy militêre mag in die gebied uit te brei en ook sy oog op Japan se arsenaal te hou.

Brian Becker, leier van die anti-oorlog koalisie ANSWER skryf op 31 Maart dat: “Die Pentagon en Suid-Koreaanse magte vanjaar en oor die afgelope paar jaar, massiewe oorlogspeletjies gespeel het waarin die inval en bombardering van Noord-Korea gesimuleer is. Min mense in die res van die wêreld weet hiervan. Die oorlogspropagandamasien is in volle swang om hierdie feite te weerhou. Noord-Korea word as die provocateur uitgeskel wanneer hulle laat blyk dat hulle oor die reg beskik om hulle land te verdedig.

“Selfs terwyl die Pentagon in gesimuleerde invalle waarin Noor-Korea vernietig word – ‘n land wat hulle vantevore tot in die Steentydperk gebombardeer het – verkondig die massamedia hierdie stap as selfverdediging.”

Pyongyang se luiddrugtigheid is slegs ‘n bekgeveg wat miskien vir party ore ‘n paar desibels te hard is. Maar Noord-Korea is ‘n klein en nasionalistiese land in moeilike omstandighede wat steeds die buitengewone brutaliteit van Washington gedurende die jare vyftig onthou. Miljoene Koreane se dood is nog nie vergeet nie. Die VSA se tapytbombardent was krimineel en Noord-Korea is bereid om vegtend onder te gaan.