Kop Pie-Raas


Dit is baie interessant dat die jong mallerige Noord Koriaanse leiertjie al te rustig voortgaan om sy militêre mag op te bou. Ek vermoed hy het die regte naam om ver te gaan in die politieke wêreld. So drie lettergreep koppelteken naam werk soms. Mense met name soos Ban Ki-Moon, Yo Gee-Sip of Lik Mee-Lips kom ver in die wêreld. Die Noord Koreaanse leier, genaamd iets soos Kiem Jong-Ghoen se naam is verder ook gepas aangesien sy albasters nie almal in hul sakkie is nie. Hy blyk maar ‘n ghoen of twee kort van ‘n versameling te wees.

Wat my fassineer is dat hy kan maak wat hy wil. Sien, toe Sadam Hoesslym by geleentheid ‘n harde wind laat, toe land die eerste Amerikaanse helikopter al langs sy huis. Afghanistan is ingeval twee dae na iemand in die withuis se koffiewinkel vir sy maatjie gevra het: “Isn’t Stan building a beacon of vast construction?” Op daardie stadium loop daar toe een of ander hoë-rang militêre gym-frikkie verby met ‘n snellervinger wat meer jeukerig is as Steve Hofmeyr en al wat hy wil hoor is: Afghanistan is building a weapon of mass destruction.

Nodeloos om te sê dat al wat hulle toe daar kry is diarree en ‘n roofkopie van Leon Schuster se nuutste film. Toegegee, dit is uiters skadelik, maar in Afghanistan verstaan niemand Afrikaans of engels nie en is die skade beperk.

Die vraag is dan waarom MeLike-War (of watookal) toegelaat is om ‘n atoombom te bou en op ‘n missiel te monteer as Saaddam nie eers ‘n “sparkle” op sy verjaardag koek kon hê nie! Obama se vingertjie is al moeg op en af geswaai vir Noord Korea. Al wat ek kan dink is dat hulle bang is. Hulle het al in flieks gesien hoe een ninja vyftig gewapende mans foeter en gedink wat sal gebeur as hulle wapens bemeester! Blykbaar is Jong Mal-Ou se weermag ook dubbel so groot as Obama s’n en natuurlik is daar min finansiële gewin vir die VSA in ‘n oorlog in Noord Korea.

Wie weet, miskien steek hulle die lont aan van een van daai groot bom-op-‘n-stokkie’s wat hulle het en los die onstabiele besigheid dalk nog die hele probleem op in die Sentraal Afrika Republiek of Sirrië!

Tot volgende slag

Die Sweep