Kindermishandeling tydens die Tweede Vryheidsoorlog.


Die imperialistiese Brittanje kon goed oorlog maak teen vrouens en kinders. ‘n Voorbeeld hiervan is die feit dat sowat 300 kinders, tussen agt en sestien jaar oud saam met die Boerekrygsgevangenes na Bermuda gestuur is. Die verskoning was dat hulle saam met hulle vaders geveg het.

Dominee Van Blerk skryf in sy herinnerings aan Bermuda dat sommige van moederskoot losgeskeur is. Ander is gevang agter die vee wat hulle opgepas het. Die gevange kinders is nie almal gelyktydig weggestuur nie. Onder feitlik elke groep krygsgevangenes wat op Bermuda aangekom het, was daar kinders gewees.

Onder die krygsgevangenes was daar benewens dokters en predikante ook onderwysers wat dadelik vir die kinders begin skoolhou het. Dit het egter nie die Engelse bewind geval nie. Die kampowerheid wou verhoed dat ‘n anti-Britse gevoel by die kinders versterk word. Die doel waas om die kinders van jongs af te beïnvloed, oftewel: “Catch them young.”

Die kinders is aangesê om na Hinsoneiland te gaan waar ‘n kosskol ingerig is. Die lewensduur van die skool was net sowat drie maande. Die kinders het botweg geweier om gehoor te gee. Om hulle te straf is kos en water van hulle weerhou en is hulle onder luide protes weg, waartydens hulle “Kent gij dat Volk” gesing het.

Op Hinsoneiland is ‘n “afvallige” onderwyser, m.a.w. een wat die eed van getrouheid aan die Engelse afgelê het, aangestel om die kinders te onderrig.

In die kamp het die kinders geweier dat die vreemde kultuur in hulle keelgate afgedruk word. Kom hulle in opstand dan sing hulle die Vrystaatse Volkslied. Dit maak die meester woedend en die leiers, Thys de Wet, Gert Vosloo en Dirk Ackerman word na die Engelse kamp geneem waar hulle op ‘n sonderlinge manier gestraf word.

Hulle moes uitgestrek op hulle rue lê met een kakiekombers onder en ‘n ander een oor hulle. Hul voete is aan ‘n pen in die grond vasgemaak en hulle hande geboei en bokant hul koppe uitgestrek, was ook vas aan ‘n pen in die grond.

Nadat hulle in die nag in die uiters ongemaklike posisie moes deurbring, word hulle die volgende oggend ontklee, oor bale goedere oopgespalk en met ‘n sambok oor die rug geslaan.

Hierdie straf is herhaal sonder dat een seun tot onderdanigheid gedwing is. Terug by die kamp wag die seuns net totdat dit donker word en ontvoer die onderwyser wat hulle verkla het uit sy tent; bind sy hande agter sy rug vas en druk sy kop ‘n paar keer in ‘n slopemmer.

Die Britte was verplig om die onderwyser uit die kamp te verwyder. Sy plaasvervanger was van soortgelyke stoffasie en weer moes die kinders straf by die skool en kamp verduur, maar kopgee was min.

Rus het eers by die skoolkamp gekom toe A.W. Bester as onderwyser oor die seuns aangestel is. Maar ‘n maand later is hy weer met ‘n Britsgesinde vervang.

Nie lank daarna nie was dit vrede wat ‘n einde aan die situasie gebring het.

Bron: Bannelinge oor die Oseaan. Boerekrygsgevangenes 1899-1902 deur Coen Groenewald.
Uitgewer: J.P. van der Walt.