Kettingwinkels die skuldiges


Die mees bekende supermarkte soos Shoprite, Pick n Pay, Woolworths, Fruit and Veg City en Spar is die vabonde wat vleis produkte verkoop waar die vleis nie korrek geëtiketteer word nie, word berig.

Dié betrokke winkelgroepe het volgens berigte te kenne gegee dat die probleem ontstaan deur vleisborde, sae, mense hande en toerusting wat gebruik word om verskillende soorte vleis te hanteer.

Dit maak dat verskillende vleissoorte in klein porsies by ander vleis gevind word. Volgens die kettinggroepe word dit nie doelbewus gedoen nie.

’n Waarnemer en slaghuis eienaar het aan Die Vryburger gesê dit dui daarop dat die hanteerders nie hulle hande was, of hul plastiese handskoene vervang as hulle van een vleissoort na ’n ander oorskakel nie. Die probleem is vêrder dat daar vir elke vleis ’n afsonderlike saag en meule behoort te wees, en as dit nie moontlik is nie, dan behoort die toerusting skoongemaak te word voordat daar met ander soorte gewerk word.

Indien hierdie maatreëls nie getref word nie, behoort die etiket aan te dui dat ’n persentasie vreemde vleissoorte ingesluit is.