Jerusalem Artisjokke. (Helianthus tuberosus)..


Hierdie artisjokke is sekerlik nie van die bekendste groente nie. Miskien ken van die ouer mense dit. Die knol van die plant word soos ’n groente gaargemaak en geëet. Die Jerusalem Artisjok-plant lyk soos ’n sonneblom-plant met klein blommetjies wat soos sonneblomme lyk. Dit groei baie goed in Kanada, Noord Dakota, Florida en Texas. Hierdie plant is familie van die magrietjies. Ten spyte van die naam, het die Jerusalem Artisjokke geen verbintenis met Jerusalem nie. Die Italiaanse setlaars het die plant “girasole” genoem, wat beteken “sonneblom”. Na ’n tydperk het die naam deur die pelgrims, verander na die Jerusalem artisjokke omdat hulle gedink het hulle is in Jerusalem toe hulle na die nuwe wêreld gekom het.

Die knolle word soos aartappels gaargemaak. Die artisjokke knolle lyk amper soos patats of gemmerwortel en is vol harige tipe wortels. Die kleur van die knol wissel van ligbruin tot wit en rooierig of pers. Artisjokke bevat nie stysel nie, geen olie nie, en bevat 10% proteïene. Hulle is ook ryk aan vesel en yster. Hierdie artisjokke het ’n ietwat soeterige smaak omdat hulle fruktose vervaardig wanneer hulle gestoor word. Hulle kan soos aartappels gestoor word, maar word gouer sleg. Dit is baie gesonde groente vir diabetes. Daar word ook brandewyn van die Jerusalem Artisjokke gemaak en dit het ’n neuterige smaak.

Wanneer u besluit om dit te kook, was en skil of skraap die knolle. Kook hulle dan vir omtrent 45 minute in soutwater en dreineer. Kook weer ’n verdere 10 minute in vars water en dreineer. Dan kan u dit soos rape of aartappels met witsous opdien. Voordat die witsous oorgegooi word, drup ’n paar druppels suurlemoensap op die artisjokke. Sprinkel dan gekapte vars pietersielie oor. Jerusalem Artisjokke kan ook fyngemaak word met uie en dan lae in ’n bakskottel te pak met kaas tussenin en dan gebak word. Hierdie artisjokke kan ook in die oond met skil aan gebak word, stippel botter op en bedruip kort-kort met die gesmelte botter. Sover bewus, is ons nie te bekend met hierdie groente nie en is seker nie maklik te vind in groentewinkels nie.

Die plant word van 1,5 tot 3 meter hoog. Die blare van die plant het ’n growwe harige tekstuur en die onderste blare is groter, terwyl die blare aan die boonste gedeeltes van die stamme kleiner is. Die blommetjies is geel en is 5 tot 10 cm in deursnee en die blommetjies het 10 tot 20 blaartjies aan ’n ronde kop. Die plant dra verskriklik baie knolle. Hulle groei baie maklik en is geneig om ander plante te oorgroei en onderdruk.

Tuingroete tot volgende keer