Hooggeregshof beslis oor borgtog vir Martin Keevy


Verraad teen regses en hul organisasies behoort voor ’n vuurpeloton tereggestel te word. Dit is een van die hof se bevindinge wat aanleiding gegee het tot ’n mislukte appèlaansoek om borgtog van Martin Keevy.

Regter Johann Daffue het as rede vir die besluit aangevoer dat Martin Keevy (48) van Bloemfontein dan kan probeer vasstel wie hom en sy drie vermeende makkers verraai het. Hy kan ook probeer vasstel wie hul geslote organisasie infiltreer het.

Die aansoeker kan hom dus met die ondersoek en die getuies inmeng.

Keevy het in ’n e-pos aan André Visagie, leier van die Geloftevolk Republikeine geskryf dat alle verraaiers tereggestel moet word.

Keevy, Johan Prinsloo (49) van Naboomspruit, Mark Trollip (49) van Douglas en Hein Boonzaaier (50) van Verwoerdburg word aangekla van hoogverraad en sameswering om terreurdade te pleeg.

Boonzaaier is op borgtog van R80 000 uitgelaat. Die ander drie is in aanhouding en sal op 24 Mei weer in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Regter Daffue het daarop gewys dat dit uit die getuienis blyk dat die nie ’n eenmalige misdaad was nie. Hul bedoeling was om die regering omvêr te werp en die politieke leiers van die land dood te maak.

Die regter het ook verwys na die voorstelle wat gemaak is dat die huise van ministers en Luthuli-Huis vernietig moet word. Water en krag na swart woonbuurte moet afgesny word en swart leiers moet doodgemaak word.

Adv. Shaun Abrahams het vir die staat opgetree. Marius Bruwer van Hugo Bruwer-prokureurs het vir Keevy opgetree.
Keevy staan tweede van links op die foto