Foutbal!


Swem:
Ek het altyd gedink dat swem een van die skoonste sportsoorte in die wêreld is. Dis beslis nie meer waar vir Suid-Afrika nie. Verlede week was die swem kampioenskappe in PE, of soos dit deesdae bekend staan, Groot Terroris Baai, in chaos gedompel. Die water het gelyk soos die Hartebeespoort dam. Die meeste rugbyspelers sou trots gewees het om op so groen oppervlak te speel! Sommige dae van die byeenkoms is uitgestel en daar was selfs swemmers wat siek geword het van die water.

Rugby:
Ek verneem dat daar weer ’n groot uittog van spelers aan die einde van die seisoen gaan wees. Die nuutste name wat genoem word, is JC Janse van Rensburg, Transvaal kaptein, wat vir die Franse klub Bayonne gaan speel. Ander spelers wat blykbaar ook hulle tasse gaan pak is Noord-Transvaal se Zane Kirchner, wat vir Leinster in Ierland gaan speel en JP Petersen wat Japan toe gaan.

Natal rugby is deesdae besig om met al meer Transvaalse kalwers te ploeg. Die nuutste klomp spelers wat aan Natal geleen word, is Derick Minnie, Jaco Kriel, JC Janse van Rensburg en Andries Coetzee.

Super 15:
Die Vrystaters is steeds besig om vriend en vyand te verras. Na hulle puik vertoning op toer, het baie gereken dat hulle nie op tuisbodem die pas sal kan volhou nie. Veral na die verlies van talle losskakels weens besering. Hulle bly egter vuurwarm rugby speel en hierdie naweek was die die Natallers in Durban, wat hulle teen die Bloemfonteiners vasgeloop het. Waar die Blikore gewoonlik aan die onderkant van die punteleer geploeter het, blaf hulle tans saam met die groot honde. Die Natallers, aan die anderkant, het die vermoë verloor om die doellyn oor te steek. Hulle is op hierdie stadium gelyk met die WP wat betref die minste drieë in die kompetisie. Diet telling was 12-6 in die Vrystaat se guns

Die OP het die naweek agtergekom waaroor Super rugby gaan. Die sukkelende Noord-Transvaal het uiteindelik rugby begin speel. Hulle het die OP ’n drag slae van 34-0 in die Baai van die Terroris gaan gee. Luke Watson, wat op die Springbok trui wou braak, is op sosiale netwerke uitmekaar getrek. Die meeste mense het gal gebraak omdat hy direk van sy besering in die begin span ingesluit was. Dit terwyl die ander manne hulself tot dusvêr heel goed van hulle taak gekwyt het. Ek kan nou nie juis sê dat ek veel simpatie met Watson het nie.

Ander uitslae:
Hurricanes 22-46 Force
Waratahs 25-20 Chiefs
Crusaders 24-8 Highlanders
Reds 19-19 Brumbies

Punteleer:
1. Brumbies 35
2. Blues 31
3. Noord-Transvaal 28
4. Reds 33
5. Chiefs 30
6. Vrystaat 27
7. Natal 27
8. Hurricanes 27
9. Crusaders 26
10. Waratahs 25
11. WP 24
12. Rebels 19
13. Western Force 16
14. OP 15
15. Highlanders 6

Die naweek se Vodacombeker uitslae was as volg:
OP 27-23 Natal
Griekwas 32-26 Wes-Transvaal
WP 34-27 SWD
Pampas 38-32 Vrystaat
Verre Noord 0-110 Noord-Transvaal
Oos-Transvaal 14-23 Transvaal
Noord-Vrystaat 17-6 Suidoos-Transvaal
Grens 26-25 Boland