Foutbal


Krieket:
Vir die eerste keer in ses jaar het die Transvaalse krieketspan weer silwerware in die vertoonkas. Hulle het Sondag die span van Noord-Transvaal met ’n allemintige 30 lopies geklop in die RAM Slam T20 finaal. Transvaal het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hulle het ’n beskeie 155 lopies aangeteken. Die manne wat met die kolf uitgeblink het, was Quinton de Kock (44 van 31 balle) en Niel McKenzie (39 van 32 balle).
Die boulers het almal saamgespan en elk van die vyf boulers het twee paaltjies elk ingeoes om Noord-Transvaal tot 125 in 18.1 boulbeurte te beperk.

Super 15 Rugby:
Vrydag het die OP vriend en vyand verras deur met 28 elk teen Jake White se Brumbies gelykop te speel. Die Brumbies was voor die naweek die voorloper op die punteleer. Hulle was ook binne die eerste 15 minute met 13-0 voor en dit het gelyk asof dit ’n maklike wedstryd vir hulle sal wees. In die tweede helfte het ’n ander OP span op die veld gedraf. Hulle het verwoed ingeklim om die telling uiteindelik in die 83ste minuut gelykop te maak.

Die Natallers het Vrydagaand ’n taai wedstryd teen die Crusaders gehad. Met lemoen tyd was die Natallers 9-11 agter. Die afrigter moes hard met die manne gepraat het, want ook hulle het die tweede helfte veel beter rugby gespeel. Die eindtelling was 21-17 in die Natallers se guns.

Die Vrystaat se droom seisoen duur steeds voort. Hulle het dit teen die verwagting van WP ondersteuners in, vyf wenne in ’n ry gemaak. Voor die wedstryd het menige WP ondersteuner hulle span se vertoning probeer regverdig, deurdat hulle teen die voorlopers in die kompetisie gespeel het, terwyl die Vrystaters slegs die agterryers kon wen. Ek is seker wurgpatats smaak beter as die woorde wat hulle nou moet eet.
Die Vrystaat se lynstane het erg gelol en het bykans 4 uit 6 lynstaan balle afgestaan in die eerste helfte. Naka Drotské het die regte antwoord gehad toe die manne water gedrink het met ’n 15-7 agterstand. Dinge het baie meer gevlot in die tweede helfte. Die tweede helfte is begin waar Sarel Pretorius vir Piet van Zyl op skrumskakel vervang het. Kort daarna het hy ’n bal afgestorm van die WP skrumskakel en agter die doellyn gaan kuier. Dit was egter bitter-soet. Sarel het ’n dyspier seergemaak en moes die veld verlaat. Hy is vervang deur Ryno Benjamin, ’n vleuel, wat maar moes diens doen op skrumskakel tot die einde toe.
Met die eindfluitjie in die Vrystaat-stadion was die telling 26-24 in die Vrystaters se guns.

Ander uitslae:

Blues 29-18 Highlanders
Hurricanes 41-29 Waratahs
Force 23-30 Rebels

Transvaal Rugby:
Dinge wil maar nie uitwerk vir die Transvalers nie. Vrydag het hulle tydens ’n nuuskonferensie aangekondig dat hulle toer na Noord-Amerika afgelas is. Baie verskonings word aangebied. ’n Mens wonder of die Transvalers ooit weer sal herstel van al die terugslae hierdie seisoen. Soos dinge op die oomblik lyk, word daar hardop gewonder of hulle ’n promosie-relugasie wedstryd teen die OP sal kan wen. Net die tyd sal leer…

Vodacom beker uitslae:
Griekwas 31-47 Pumas
Noord-Vrystaat 30-19 Transvaal
SWD 22-26 Natal
Vrystaat 13-17 OP
Verre Noord 7-69 Suid-Oos Transvaal
Noord-Transvaal 26-33 Wes-Transvaal
WP 22-13 Grens
Boland 23-65 Pampas