Ewe skielik skatryk SA


Die bankrot Zimbabwe gaan deur Suid-Afrika met meer as R900 miljoen bygestaan word in ’n lening om die land se begroting ’n hupstoot te gee.

Kenners meen Zimbabwe is so bankrot dat daar nie eers genoeg fondse is om ’n verkiesing te hou nie.

Die Minister van Finansies, Tendai Biti, sê hulle benodig R1,3 miljard en die res word geleen by Angola.

Hy beweer dat gesprekke sedert September 2012 gevoer is met die Suid-Afrikaanse kabinet wat glo nou tot ’n besluit gekom het en dit is ’n positiewe besluit.

Dié minister het ook by Suid-Afrika ’n verdere R400 miljoen gevra om die verkiesing te finansier. Die verkiesing vind plaas in die tweede helfte van hierdie jaar, maar Suid-Afrika het nog nie ’n finale antwoord gegee nie.

Op ’n vraag het hy glo gesê Zimbabwe gaan nie voor die verkiesing nog geld leen nie.

’n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse tesourie wou egter nie uitwei oor die hele aangeleentheid nie.

’n Woordvoerder van Oranje Sake Instituut het gesê dit is duidelik dat Mugabe die land finaal geknak het en al die geld wat aan die bankrot land geleen sou word, kan beskou word as weg gegooide geld.

Solank Mugabe in die prentjie is, sal daar nie ’n terugbetaling plaasvind nie. Intussen krepeer miljoene mense in Suid-Afrika terwyl hy rykman van Afrika probeer wees, het die woordvoerder gesê.