Eskom se skamele 8% verhoging “onregverdig”


Volgens Malusi Gigaba was die tariefverhoging van 8% wat Nersa aan Eskom toegestaan het onregverdig. Hy sê dat die aangeleentheid tans ondersoek word. Gigaba is die minister van Openbare Ondernemings en is sedert 1990 ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party.

Waar Eskom vir jare een van die goedkoopste voorsieners van elektrisiteit in die wêreld was, is dit tans een van die duurste. Eskom het reeds twee buitegewone tariefverhogings gehad, wat meer as 300% bo inflasie was en die nuutste verhoging van 8% is meer as 35% bo inflasie en dit vanaf die hoë verkreë basis wat met die vorige verhogings bereik is. Die kragvoorsiener het heelwat van sy eie probleme oor jare geskep met die uitfasering van kundigheid vir polities-ideologiese redes en belangrike beplanning wat agterweë gebly het.