Ek sien dit so!


Vandag wil ek hê dat ons 361 jaar teruggaan na 6 April 1652, die werklike begin van ons kleurryke geskiedenis in hierdie pragtige land, ons pragtige Suid-Afrika. Laat ons vandag ons Hemelse Vader eer wat daardie Nederlandse setlaars gedra en veilig hier neergesit het, want was dit nie vir Hom nie het ek nie vandag met julle in ons mooi Afrikaanse taal gepraat nie…want ons taal sou nie bestaan het nie.

Vandag – lees Saterdag, is dit presies 361 jaar sedert Jan van Riebeeck en sy mede Nederlanders voet aan wal gesit het in Die Kaap De Goede Hoop, of nou Kaapstad. Van Riebeeck se opdrag van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie (VOC) was op papier ‘n eenvoudige taak maar die fisiese uitvoering daarvan was heeltemal ‘n ander storie. Hierdie opdrag was om ‘n verversingspos op te rig om Nederlandse skepe wat onderweg was na Oos-Indië met vars kosvoorrade, water, medisyne en natuurlik broodnodige rus aan die bemanning te voorsien. Hy moes ‘n fort bou, ‘n tuin vir vars groente en vrugte aanlê, Tafelbaai as ankerplek verbeter en vee in die hande kry.

Wie was Jan van Riebeeck? Hy is in 1619 in Culemborg in Nederland gebore en het as skeepsdokter en later as werknemer van die Kompanjie in Batavia gedien. Op 5 April 1652 gooi Van Riebeeck se 3 skepe anker in Tafelbaai, die skip waarop hy homself bevind was die Drommedaris, die ander 2 skepe was die Reijger en De Goede Hoop. Die volgende dag, 6 April 1652, of soos ons dit vandag beskou, Stigtingsdag, sit Jan van Riebeeck en sy manskappe voet aan wal. Dis hier op die strand waar Van Riebeeck ‘n gebed tot ons Hemelse Vader gerig het.

Vir die daaropvolgende 2 weke en 2 dae sou almal in die skip oornag en slegs aan land gaan om te werk. En watter uitstekende werk het daardie mense nie verrig nie! Vir dié van julle wat nog nie die kasteel in Kaapstad besoek het nie, doen dit gerus. Want wanneer jy daardie ou terrein betree en die merkwaardigheid van die geboue besigtig, sal jy besef dat ons voorvaders 361 jaar gelede iets vermag het wat selfs vandag nie vir almal beskore is om reg te kry nie.

VAN RIEBEECK SE GEBED:

“Barmhartige, genadige God en Hemelse Vader, volgens U Goddelike wil is ons geroep om die sake van die Generale Verenigde Nederlandse Geoktrooieerde Oos-Indiese Kompanjie hier aan die Kaap Die Goeie Hoop te bestuur. Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in U Heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder.

Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense U ware Gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder U genadige hulp allermins in staat. Daarom bid ons U, Allerhoogste genadigste Vader, dat U met U Vaderlike wysheid by ons sal bly.

Ons bid dat U self leiding in ons vergadering sal gee en ons harte so verlig dat alle verkeerde hartstogte, tweedrag en ander dergelike gebreke van ons geweer sal word sodat ons harte van alle menslike hartstogte skoon sal wees.
Laat ons gemoedere so ingestem wees dat ons in ons beraadslaginge niks anders beplan of besluit nie as dit wat mag strek tot grootmaking en lof van U allerheiligste Naam en tot diens van die wat oor ons regeer.

Laat ons nie in watter mate ook al op eie voordeel of winsbejag let nie, maar net op die uitvoering van ons opdragte en dit wat vir ons saligheid nodig is. Ons bid en vra dit in die Naam van U geliefde Seun, ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus…wat ons leer bid het: Ons Vader wat in die hemel is…Amen.”

Op hierdie gebed is dan die grondslag gelê vir die uitbouing van die blanke bevolking eers in die Kaap, en later in die res van Suid-Afrika. Jan van Riebeeck het op 6 April 1654 beslis dat hierdie dag voortaan gevier sou word as Stigtingsdag en op hierdie datum is dit ook vir die eerste keer herdenk. Die eerste jare in die Kaap was ontsettend moeilik, dit natuurlik as gevolg van ‘n paar faktore.

Die Nederlanders moes die wilde terrein tem, wilde stamme tem, onbekende weersomstandighede oorbrug wat die aanlê van groente en vrugtetuine bemoeilik het en asof dít nie moeilik genoeg was nie moes aan die fort gebou word en infrastruktuur geskep word vir wet en orde, beskerming teen vyandelike invalle en die algemene gevoelens van die burgers wat in alle sake in ag geneem moes word.

En kla ons nie vandag oor die situasie waarin ons onsself bevind en doen niks daaraan nie? Ja ons kla want ons het vergeet wat ons voorvaders gedoen het in soortgelyke of moeiliker tye. Wanneer die Afrikaner in die openbaar aangeval word, en ons van ons geskiedenis vervreem word, en die skuld vir alles wat nog ooit in Suid-Afrika verkeerd geloop het op ons skouers gepak word, dis dan!…dis DAN wanneer ons harte met trots mag warm klop en dat ons mag weet dat die regverdige nog altyd die slaansak van die onregverdige was en nou is. Moenie skaam wees oor waar jy vandaan kom nie, moenie skaam wees oor wie jy is nie, en laastens, moenie skaam wees om jou taal te praat nie. Afrikaans is immers die enigste blanke taal wat in Suid-Afrika ontstaan het, wees trots daarop! As iemand jou vra of jy ‘n Afrika-taal kan praat, sê kliphard ja…want jy praat mos die mooiste een van almal.

Dankie aan ons Hemelse Vader. Dankie 1652. Dankie Jan van Riebeeck. Dankie aan almal wat die afgelope 361 jaar die hoogste prys betaal het sodat hierdie Volk teen die hele wêreld vry mag wees.

Boeregroete,
Kordaat Neelsie