Die Boere beleg van die Voortrekkermonument


Op Saterdag 30 Maart 2013 het die boere die Voortrekkermonument oorgeneem vir die jaarlikse Goliat van Gat fees wat tydens hierdie geleentheid onder die naam Goliat van feeste deur gegaan het. Die doel met die naam is om aan te dui dat dit ‘n groot fees sal wees.

Met bykans twee honderd stalletjies en ‘n tiental kunstenaars het die organiseerders daarin geslaag om hierdie ‘n reuse fees te maak.

Toegang tot die fees was billik teen slegs R30-00 per motor en die uitstallers was heel tevrede met die R200-00 wat hulle vir hulle stalletjies betaal het gemeet aan die hoeveelheid besigheid wat hulle gedoen het.

Van die kunstenaars het hulle debuut gemaak by die geleentheid en ongelukkig moet vele van hulle maar eerder hulle sangloopbaan hier halt roep, om hulleself verleentheid te spaar.

Die hoogte punte van die kunstenaars, was veronderstel om Sunette Bridges en Steve Hofmeyr te wees, maar Steve Hofmeyr het diep teleur gestel. Nie oor sy sang nie, die man het immers ‘n talent om te sing en goeie ervaring as verhoog kunstenaar wat hy oor 25 jaar op gedoen het. Die teleurstelling het gegaan oor die “wyshede”wat hy gedeel het met die gehoor. Een van sy vele kwinkslae was dat hy nie weet van een organisasie wat ‘n oplossing het vir die toekoms nie, daarom behoort hy maar aan almal sodat as een dalk eendag met ‘n oplossing kom, dan is hy deel daarvan. As daardie oplossing dan is dat ons almal Perth toe moet gaan, dan doen ons dit en as die oplossing is dat ons almal London toe moet gaan, dan doen ons dit ook.

Steve het duidelik nog nie van die Boere-Afrikanervolksraad gehoor of met hulle gepraat nie, want as hy het, dan lieg hy dat niemand ‘n oplossing het vir die toekoms nie. ‘n Oproep na die VVK se kantoor het bevestig dat hy nie geregistreer is as ‘n kieser nie, gevolglik is dit ook onwaar dat hy almal ondersteun. Ek wil egter nie die man as ‘n leunaar uitmaak nie en sal hom die voordeel van die twyfel gee dat hy nie weet van die Volksraad nie.

Meet mens sy uitlating aan die organisasies waar hy gereeld betrokke is, kan mens hom dalk sy uitlating verskoon. Solidariteit, Afriforum en Dan Roodt se Praag se oplossings vir die toekoms is onduidelik.

Daarom rig ek namens Die Vryburger ‘n ope uitnodiging aan Steve; Die Vryburger sal ‘n gesprek reel tussen Steve en die Volksraad, op Steve se versoek. Sou Steve egter nie van hierdie geleentheid gebruik maak nie, sou dit beter wees dat hy nie weer uitsprake maak oor my volk se toekoms van ‘n verhoog af nie en eerder maar sing en praat oor pampoene, hasies en “heilige” blou koeie. M.a.w. goed waarvan hy iets weet.

Aan die ander kant het Sunette Bridges ‘n beroep gedoen op die gehoor dat ons nie mekaar moet vergruis nie, ten spyte dat sy verstaan dat ons almal se frustrasie vlakke hoog is weens die onreg en moorde wat teen ons gepleeg word. Ons het mekaar nodig, was haar boodskap, wat verseker ‘n beter bootskap is as daar is geen oplossing, kom ons ploeter voort totdat iemand besluit ons moet die land verlaat.

Die wenner van die grootste pampoen se pampoen het die skaal getrek op 217kg.

Piet Potlood