Boere paraat en fnuik boewe


Die paraatheid van boere in die Mafeking omgewing het daartoe gelei dat ses swartes blitsvinnig gevang is in twee afsonderlike voorvalle.

Verlede week is twee swartes vasgetrek op ’n plaas toe hulle in die afwesigheid van die eienaar by sy huis ingebreek het. ’n Plaaswerker het die eienaar geskakel nadat hy stemme in die huis gehoor het.

Hy het sy bure geskakel en binne minute was die huis met voertuie omsingel en die twee gevang.

Enkele dae later het vier swartes met klapmusse op, Kotie du Toit by haar winkeltjie oorval, die geld in die laai gevat en haar huis toe gedwing waar sy vasgemaak is. Sy was gedwing om die kluis se sleutel te gee en twee gewere, ’n selfoon en geld is gesteel.

Na hulle weg is, het sy haar los gewoel en alarm gemaak. Die boere in die omgewing, saam met hulle plaaswerkers en die polisie het ’n kordon getrek om ’n groot gebied en twee uur later is al vier boewe gevang.

Kotie du Toit sê sy het die hele tyd hardop gebid en haar gebed is verhoor.

’n Woordvoerder het aan Die Vryburger gesê die bewys is baie duidelik. Paraatheid is die sleutel tot bekamping van sulke boewery.