Boer red dame na slangbyt


Mnr. Dieter Hoffman (41), voorheen van Verwoerdburg, het ’n vrou teengif ingespuit nadat sy deur ’n swartmamba gebyt is.

Hoffman staan in die Pandamatenga-distrik van Botswana bekend as die slangman weens sy vernuf om slange te vang.

Hy vang graag slange wat in mense se erwe en huise binnedring.

Volgens hom het hy vir ’n dame Ronél by die Pandama-kliniek teengif ingespuit.

Ronél, woon op ’n plaas in dié distrik en wou plaaswerkers na die dorp neem. Die werkers het haar vermaan om nie uit die bakkie te klim nie omdat daar ’n mamba in die omgewing was. Sy het egter uitgeklim en is toe deur die slang gebyt.

Sy het egter besonder kalm gebly en met haar voertuig huis toe gery.

Haar man het inderhaas met haar na die kliniek gejaag. Hoffman is intussen opgespoor en hy is met sy stel slang teengif na die kliniek.

Toe mnr. Hoffman met haar opdaag by die kliniek, het sy reeds asemhalings probleme ondervind en het verlamming begin intree.

Die teengif is dadelik ingespuit en ure later kon Ronel huiswaarts keer saam met haar man.