BA Volksraad verslag soos op 12 April 2013


SOOS OP 12 APRIL 2013
Soos reeds bekend, het die Volksraad op 3 Desember ‘n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) teen die S.A. President en lede van sy kabinet gelê weens sy versuim om aan verskeie bepalings van die Verenigde Nasies se Internasionale Konvensie op Burgerlike en Politieke Regte, art. 235 van die S.A. Grondwet, en ander internasionale verdrae wat volke se reg op selfbeskikking erken, uitvoering te gee. Die volledige bewoording van die klag kan gelees word op die Volksraad se webblad (www.volksraad.co.za).

Die ANC-regering is ‘n ondertekenaar van die gemelde Verdrag, asook van ‘n opsionele Protokol waardeur die Internasionale Menseregtekomitee (MRK) se gesag om oor verbrekings van die verdrag te besleg, aanvaar word. Hierdie is bindende en afdwingbare internasionale verdrae wat nie straffeloos deur ondertekenaars daarvan oortree kan word nie.

Die Internasionale MRK skryf voor dat alle plaaslike (binnelandse) regsremedies eers beproef moet word alvorens hulle klagtes oor verbreking van die Verdrag of versuim om die bepalings daarvan na te kom, sal aanvaar en oorweeg. Die klag by die SAMRK is ‘n belangrike en noodsaaklike stap om aan dié vereiste te voldoen.

Die SAMRK het In antwoord op ons navrae oor die vordering met die hantering van ons klag, geantwoord dat hulle ondersoek teen 28 Februarie 2013 afgehandel moes wees. ‘n Dag voor dié sperdatum is ons meegedeel dat hulle verslag ons wel die 28ste sou bereik. Toe dit nie gebeur het nie, het ons navraag gedoen, en is belowe dat ons dit op 4 Maart sou ontvang. Dit het ook nie gebeur nie en in antwoord op ons aanmaning is ons twee dae later skriftelik ingelig dat “our team of researchers and legal officers have not finalised the assessment of your complaint”. Die vorige beloftes was dus gemaak, wetende dat dit nie nagekom sou word nie. In laasgenoemde skrywe word toegegee dat ons klag “is of great importance as it may have a major impact in our country.” Die ernstige aard van die Verdrag en die gevolge indien dit uitgevoer sou word, word dus in daardie kringe besef.

Ons het daarop aangedring om teen 31 Maart ten minste ‘n substansiële vorderingsverslag te ontvang. Tiperend van hul voetslepery het dit ook nie gebeur nie, waarop ons aan die Internasionale MRK kennis gegee het van ons voorneme om die onderhawige klag na dié liggaam te eskaleer en hulle terselfdertyd ingelig het oor die SAMRK se lamsakkige hantering van die saak. Hierdie brief is pas deur mnr. Henk van de Graaf by die MRK se kantoor in Genève oorhandig. Ongelukkig het die MRK geen jurisdiksie oor die SAMRK nie en kan hulle slegs maar kennis neem hoe pateties en oneffektief die ANC-regering se hooggeroemde konstitusionele instellings is.

Voordat ons egter die MRK vir internasionale bemiddeling kan nader, moet die SAMRK se bevinding uit hulle gewurg word.

Intussen word oorweging geskenk aan ander binnelandse remedies, wat die verkryging van ‘n Konstitusionele Hofbevel om die Regering te dwing om sy verpligtinge na te kom, kan insluit. ‘n Prokureursbrief wat die weg daartoe kan open, is voorberei en sal eersdaags op die President bestel word.

Terwyl mnr. Van de Graaf in die buiteland is, het hy ook ‘n skrywe aan die Internasionale Strafhof oorhandig waarin die Volksraad aan dié Hof kennis gee dat hy hom as ‘n party tot die volksmoordklag, wat vroeër deur die Verkennersbeweging aanhangig gemaak is, voeg.

Ook het hy ons volk se Eis om Selfbeskikking, wat op 13 Oktober te Paardekraal bekendgestel en daarna op die Regering bestel is, as ‘n amptelike dokument by UNPO ingedien, waar hy baie goed ontvang is.

Naas die Volksraad se aksies het ‘n Duitssprekende Boere-Afrikaner, mnr. Helmut Heymann, wat eens ‘n belangrike posisie beklee het waardeur hy verskeie internasionale kontakte gemaak het, sy medewerking aan die Volksraad aangebied, en aan al 620 lede van die Duitse Bundestag (dit is die Duitse Parlement), die Duitse President, Kanselier en ander lede van die Duitse Regering, ‘n persoonlike brief met ‘n kopie van ons volk se Eis om Selfbeskikking, gestuur en hulle ingelig oor die weiering van die Duitse Ambassadeur om op 30 November verlede jaar die Eis amptelik in ontvangs te neem. Volgens mnr. Heymann was die Ambassadeur se optrede strydig met die Duitse Grondwet, wat glo bepaal dat ambassades sulke dokumente in ontvangs móét neem. Sy beswaar is deur die President van die Bundestag na dié liggaam se Regskommissie verwys vir amptelike ondersoek.

Voorts het mnr. Heymann ‘n brief aan 100 Amerikaanse senatore gerig om hulle oor die omstandighede waaronder ons volk gebuk gaan, in te lig. Mnr. Heymann het reeds verskeie positiewe reaksies op dié skrywes ontvang.

Verteenwoordigers van die Volksraad het onlangs saam met die Sentrale Komitee van die VVK vergader om onder meer die volgende Volksraadsverkiesing, wat gedurende 2014 gehou moet word, te bespreek. Besonderhede hieroor sal mettertyd aan u verskaf word.

Andries Breytenbach