Augrabies-waterval gaan krag opwek


’n Hidro-elektriese kragstasie gaan by die Augrabies-waterval opgerig word.

Die kragstasie word so opgestel dat daar byna niks sigbaar sal wees vir toeriste nie.

Só sê Niel Theron, direkteur van Hydro SA.

Die projek, wat sowat R700 miljoen kan beloop sal waarskynlik in die tweede helfte van 2014 begin word.

Die projek sal ’n stuwal en ’n ondergrondse pypleiding wat water uit die Oranjerivier na die kragsentrale sal lei, insluit.

Die plan is om die hidro-elektriese kragsentrale diep onder die grond in ’n kloof naby Riemvasmaak te bou. Die water sal uiteindelik 100m tot by die turbines kan val waarna die water terug vloei in die Oranjerivier.

Dié hidro-elektriese projek sal 19,9 MW opwek.