ANC wette gaan media berigte inperk


Die Nasionale Vergadering (NV) sal waarskynlik nog hierdie week stem oor die sogenaamde “muilbandwet” om die media te beperk met hulle beriggewing.

Die ANC het ook hul gretigheid om die wet op die boek geplaas te kry geopenbaar met die prosedure wat gevolg is.

Daar is ’n dringendheid om die saak te finaliseer.

Die haas om alles af te handel word duidelik as Cecil Burgess, ANC-LP en voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting oor die gebruik van leestekens in die wetsontwerp, gesê het: “Ons het nie ’n oormatige obsessie met perfeksie nie.”

’n Opposisielid het daarop gewys dat ’n komma of ’n punt, of selfs ’n aandagstreep ’n groot verskil kan meebring in betekenis, maar die ANC wou net die saak vinnig afgehandel kry.

Waarnemers is dit eens dat die muilbandwet groot ellende kan veroorsaak. Korrupsie gaan waarskynlik die hoogte in skiet en die muilbandwet kan die media verhinder om daaroor te berig.

’n Kenner van die kommunisme het aan Die Vryburger gesê dat dié wet duidelik toon waarheen die ANC regering oppad is, aangesien dit een van die hoekstene van kommunisme is om die media te beperk en net te skryf wat goed en lekker op die oor val vir die maghebbers, het hy gesê.