ANC: skaam of bang?


Die Zuma-regering het skielik ’n gordyn getrek om die hele fiasko in die Sentraal Afrika Republiek toe ’n klompie rebelle die SANW op hulle baadjie gegee het.

Die skielike geheimhouding rondom die hele aangeleentheid dui daarop dat die regering met iets besig is wat nie bekend gemaak moet word nie.

Waarnemers is van mening dat dit dalk gedoen word omdat die regeerders skaam geword het vir wat gebeur het, en ook vir die geweldige vernedering wat die Weermag ondergaan het.

Die Departement van Verdediging weier nou om ’n Memorandum van Verstandhouding bekend te maak wat die ontplooiing van Suid-Afrikaanse troepe in die SAR goedgekeur het.

Die amptelike woordvoerder, Sonwabo Mbananga, wat namens Nosiviwe Mapisa-Nqakula, Minister van Verdediging optree, sê die regering het besluit om nie die dokument bekend te maak nie aangesien dit nie ’n openbare dokument is nie en ook nie in openbare belang is nie.

Die uitlating verskil radikaal van Mapisa-Nqakula se standpunt wat sy twee weke gelede in die staande komitee vir verdediging gesê het. Toe het sy manhaftig verklaar dit is ’n openbare dokument.

’n Voormalige bevelvoerder in die Weermag het gesê dit wil voor kom asof die regering nou alles in die stryd werp om hulle verleentheid te verberg en dat hulle waarskynlik bang is dat die waarheid oor die hele sending wêreldbekend sal raak.