Wolfgang Sawallisch (1923 – 2013)


Die wêreldberoemde Duitse dirigent en pianis, Wolfgang Sawallisch, wat posisies by die Weense Simfonie, Staatsoperhuis van Bavarië en die Philadelphia Orkes gehou het, is verlede week dood.
Die Philadelphia Orkes waar hy sy laaste voltydse pos as Musiek Direkteur van 1993-2003 gehou het en as dirigent laureate benoem is, het as eerbetoon vir die ontslape dirigent die Siegfried Idille tydens ‘n middagkonsert uitgevoer.

Die huidige Musiek Direkteur van die orkes Yannick Nézet-Séguin het gesê dat die hele orkes oor die afsterwe van die 89-jarige dirigent verlede Vrydag in sy huis in Grassau treur. In sy huldeblyk tydens die konsert het hy gesê dat Sawallisch die welsyn van die orkes en sy musici op die hart gedra het, en die tradisie van die 100-jaar oue orkes gerespekteer het. Van die podium af was hy ‘n dierbare vriend gewees.

‘n Direkteur van EMI wat ‘n vriend van die dirigent was het gesê dat hy saam met top-kunstenaars gewerk het en dat almal lojaal teenoor hom was, want hy was ‘n bondgenoot en nie ‘n tiran nie. Altyd formeel geklee in ‘n das en baadjie, selfs in die uitputtende opname-ateljees het hy oor ‘n droeë sin vir humor beskik wat graag geluister het na die skinderstories van die musiekwêreld.

Anders as baie van die dirigente het hy nooit sy stem verhef of sy humeur verloor nie, Hy kon kritiseer, maar het nie die persoon gekwets nie.

Tydens ‘n uitvoering van Wagner se Walküre in Philadelphia het hy homself weens ‘n sneeustorm sonder ‘n orkes bevind. Ongestoord het hy ‘n klavier op die verhoog laat dra en die ouverture stiptelik op tyd begin speel. Soos die Pruisse sê, twaalfuur eet ons, of daar kos is of nie.