Wildepynappel / Krulkop … Eucomis autumnalis


Hierdie plant is van die Aparagaceae familie en oorspronklik van Suid-Afrika en kom veral voor in die Oostelike dele en die grasvelde van die land. Dit is inheems en vertoon pragtig in ons tuine. Hy word ook die Herfs pynappel-lelie genoem.

Die Wildepynappel is ’n bolplant wat in die somer blom. Die blomme is soetgeurig. Bleek geelgroen, styfgepakte blomme kom voor in vet are aan stywe stele wat bokant die loof uitgroei. Op die punte van die blomare verskyn skutblaartjies in ’n digte roset wat dit soos ’n pynappel laat lyk en dit is ook waar die plant sy naam vandaan kry. Dit is uitstekende snyblomme. Wanneer die blomme bestuif is, verkleur hulle na groen en vorm ’n vrug wat dan blink swart sade vorm. Selfs hierdie vrugte is dekoratief. Die blomme hou lank aan die plant en ook in vase in die huis. Daar is ook ’n dwergie spesie (E.humills) met pers getinte blare en groenwit blomme met pers rande.

Hierdie is ’n lieflike kontrasplant met sterk loof wat tussen ornamentele grasse geplant kan word en vertoon pragtig selfs wanneer hulle nie blom nie. In die winter is die plante egter dormant en moet dan redelik droog gehou word. Wanneer hulle in goed gedreineerde grond is, hoef hulle nie uitgehaal te word tydens die dormante stadium nie.

Plant die Wildepynappel in groot getalle op plekke waar hulle op die warmste deel van die dag in ligte skaduwee gaan wees. Hul is ook nogal gelukkig in rotstuine maar moet gereeld water kry. Die nek van die bol moet net onder die oppervlakte van goed gedreineerde grond wees. Werk baie kompos in die grond en gee ’n deklaag en gereelde water in die somer en hulle sal baie gelukkig in u tuin wees.

Geniet u tuin en wend sonskerm aan u vel wanneer u in die hitte en son van die somer buite werk!