Weermag verleentheid: soldate doodgeskiet


Die Weermag van Suid-Afrika se poging om militêr in te gryp in die Sentraal- Afrikaanse Republiek (SAR) het hopeloos verkeerd verloop. Die Rebellemag het minstens nege soldate van Suid-Afrika doodgeskiet en talle is gewond.

Die rebelle het die hoofstad Bangui feitlik totaal oorgeneem.

Reuters berig dat ’n ooggetuie gesien het hoeveel soldate dood is.

Dit het nou eers bekend geword dat daar meer as 600 soldate gestuur is om hulp te verleen teen die rebellemag van die land.

Kenners sê Suid-Afrika sal die groot verleentheid moet sluk en vir Frankryk vra om sy soldate uit die land te kry. Dit sal die eerste keer in die geskiedenis van die land wees dat so ’n vernedering ondergaan word.

“Dit toon minstens dat die Weermag nie opgewasse is om sulke operasies suksesvol deur te voer nie en sal in die anale as ’n skande opgeteken word,” het een kenner opgemerk.

’n Voormalige weermag generaal het aan Die Vryburger gesê dit is sekerlik die grootste skande wat ’n land kan tref. Die Weermag se onbeholpenheid, en die regering se magteloosheid om sy soldate na veiligheid te neem, het die land se beeld na buite ernstig geknak.

Die onttrekking uit die gebied word internasionaal beskou as ’n mislukte militêre operasie waartydens Suid-Afrika se weermag die onderspit gedelf het teen ’n rebellemag en nou met behulp van ’n ander moondheid op die vlug slaan.

Die Vryburger het ’n tyd gelede gerapporteer dat die Weermag se slaankrag sodanig verswak het dat dit niks beter is as in die dertigerjare van die vorige eeu nie.