V.S.A. Federale besnoeiïngs kan ook S.A. tref


Die V.S.A. se staatsbesnoeiïngs, wat deur die Republikeinse Party op die regerende Demokratiese Party afgedwing is, het nie net dramatiese gevolge vir sekere staatsdepartemente in die V.S.A. nie, maar sal ook lande nadelig tref wat voorheen op skenkings vanaf die V.S.A. staat gemaak het. Suid-Afrika is een van daardie lande.

Die Republikeinse Party het ‘n paar maande gelede halfhartig toegegee dat belasting op die hoër inkomstegroep in die land verhoog word, maar dit as ‘n voorwaarde gestel dat daar inkortings moes volg op staatsuitgawes. Die land se ongunstige handelsbalans moet oor die volgende dekade met $4-triljoen gesny word. In 2011 is daar begin met $1,5-triljoen en daar moet ‘n verdere $85-miljard se verlaging van uitgawes in 2013 wees, tesame met die $720-miljard se bydrae uit verhoogde belasting. Obama wou die totale bedrag met verhoogde belastings finansier.

Die besnoeiïngsproses, bekend as “sequestration”, word toegepas deurdat dit outomaties die federale begroting sny met ‘n vasgestelde bedrag regdeur die land op die meeste staatsdepartemente en agentskappe. Daar word reeds gespekuleer dat lughawens groot ongerief gaan ondervind met kansellasies en vertragings met vlugte. Wet en orde gaan minder geld hê met misdaad wat gaan toeneem. By die departement van verdediging sal oorlogskepe minder aktief rondbeweeg en daar word genoem dat instandhouding op 25 skepe en 470 vliegtuie vanaf 1 Maart gekanselleer is.. Navorsing en ontwikkeling word ingekort,so ook gesondheidsdienste op voorkomende behandelings, ondersteuning aan skole, voedselprogramme vir hulpbehoewendes en inkortings op vele ander terreine.

Afrikalande, soos S.A., wat aansienlike hulp vanaf die V.S.A. ontvang ter ondersteuning van gesondheidsdienste en vele ander terreine sal ook die effek voel en dit kan volgens kenners aansienlike bedrae wees.