Spesiale verslag: Majuba 2013 – Werklik ‘n FEES!


Sowat 1,300 Boere-Afrikaners bymekaar kan inderdaad sorg vir ‘n feestelike geleentheid! Dít het die Majuba volksfees wat van 22 tot 24 Februarie net buite Volksrust gehou is, hierdie jaar net weer bewys.

Byna op die grens tussen Natal en die Transvaal troon die Majubaberg as ‘n majestieuse landmerk tussen die pragtige groen heuwels uit. Vir volksgenote is Majuba tog nie net ‘n gewone berg met talle klippe en veldgras nie, maar hy staan uit as gevolg van sy betekenis in Boere-Afrikaner geskiedenis: Hier het die Boere die Rooibaadjies en haar Majesteit pakslae gegee!

Wanneer mens by die hek die Majubaterrein binne ry word jy begroet deur die Transvaalse Vierkleur en die Vrystaatse vlag aan weerskante van die pad. Onmiddellik weet jy dis waar jy hoort. Tussen meer as ‘n duisend volksgenote van eenderse kleure, word daar heerlik gekamp, koffie gedrink, politiek gepraat en sommer net gekuier. Die atmosfeer is feestelik, want dis mos nou lekker by jou eie mense!

Vrydagaand word daar vir die kinders ‘n fakkelloop bergop aangebied. Die jonges dra dan elkeen ‘n lig die duisternis in en kort voor lank is daar lang spoor vlammetjies wat teen die berg op flikker.

Saterdagoggend, na ‘n skriftelike opening en gebed deur Ds. Ruan Combrink , word volksgenote hartlik welkom geheet deur die Majuba Boerevolk Trust. Groete boodskappe uit Europa stroom ook in en word aan feesgangers voorgehou. Mnr. Andries Breytenbach, Voorsitter van die Boere-Afrikaner Volksraad wat hierdie jaar se fees aangebied het, het die feesrede gelewer en die amptelikhede van die fees tot ‘n einde gebring.

Nooit hoef ons kinders wat trou is te vra wat beteken enige volksvlag van Suid-Afrika nadat die Perdekommando elkeen pragtig ten toon gestel het nie. Die perdekommando kry dan ook ‘n trofee aangesien hulle jaarliks sonder skroom met perd en al opruk na Majuba.

‘n Indrukwekkende skyngeveg wat die slag van Majuba uitbeeld, is deur die Perdekommando en die Dundee Diehards opgevoer. Hier is volksgenote meegevoer deur die spanning en trots wat die Boere daardie dag moes ervaar het. ‘n Kanonskoot elke nou en dan het gesorg vir talle benoude gille!

Die Reuse Vierkleur is uitgerol en feesgangers kon dit in sy grootsheid aanskou soos hulle die berg bestyg. Bo-op die berg is daar ‘n geskiedkundige vertelling behartig deur Ds. Martin Jordaan waar mens meer te wete gekom het van die taktiek en roetes wat die Boere bergop gevolg het.

Sunette Bridges, die bekende volkssangeres het die feesgangers op hul voete gehad aan die hange van die Majuba berg. Die opelug konsert was uit die boonste rakke!

Die Cantus, wat die opwinding vir Saterdagaand verskaf het, is hierdie jaar deur die Jakaranda Cantusgilde behartig.’n Cantus is ‘n Dietse tradisie afkomstig van Duitsland, Nederland en Vlaandere. Cantusgangers sing onder leiding van die diktatoriële Praeses (sangleier) volksliedere terwyl hulle feestelik saam ‘n glas bier geniet.

Sondagoggend is die fees in die Van Blerksaal afgesluit met ‘n erediens gelei deur Ds. Martin Jordaan. Volksgenote moes weer die lang pad huis toe aandurf na ‘n stampvol aktiwiteitbelaaide naweek, maar elkeen se batterye is herlaai om vir nog ‘n jaar moedig te werk aan die uitbou van ons volkstradisies.

Soos die Majubaberg trots tussen die groen heuwels van Natal uittroon, so troon sy oorwinning ook as simbool van hoop in ons volk se siel uit. In die woorde van G.A. Watermeyer wat teen die monument by Majuba pryk: “Om met moed teen die môrekim, meer as Majuba uit te klim.”