Siprus oorleef!


Die eiland, Siprus, met sy ongeveer 860 000 inwoners kan weer asem haal, nadat daar in die middenagtelike ure van 24 Maart ‘n ooreenkoms met die Europese Unie aangegaan is. Die land het in die moeilikheid beland deurdat hulle hulself beskikbaar gestel het om ‘n belastinghawe vir rykes te word. Dit is veral ‘n gewilde depositoplek vir die welgesteldes uit Rusland en England. Die Russe besit ongeveer 40% van die totale depositos in Siprus se banke. Dit is ‘n irritasie vir die EU en Rusland, want dit ontneem hulle van belastinggeld van hulle inwoners. Die banke in Siprus sit met soveel geld dat dit die land se BBP totaal oorskadu en ‘n wantverhouding tot gevolg het.

Die regering van Siprus het ‘n moeilike tyd beleef nadat hulle die finansiële hulp by Rusland gesoek het in ruil vir sekere gasreserwes en bankbates. Toe dit nie help nie is hulle terug na die EU. Hulle naweekprogram met die EU het ongeveer soos volg verloop:
Sondag om 13:00 is ‘n vergadering gehou tussen Siprus se premier, Nicos Anastasiades, met Mario Draghi, hoof van ECB (Europese Cetrale Bank); Christine Lagarde, BD van IMF; Herman van Rompuy, EU president; Jose Manuel Barrosso, president van die Europese Kommissie en die Eurogroep voorsitter Jeroen Dijsselbloem.

Na die vergadering het Dijsselbloem die ministers van finansies van al 17 lidlande byeen geroep om die finale besluit te bekragtig. Die verlangde hulp sal deur die EU toegestaan word en Siprus sal sekere aanpassings doen. Dit sluit in die dat Laiki Bank, een van die grootstes in Siprus afgetakel gaan word, instansies met meer as €100 000 op belegging sal ‘n bydrae lewer wat nog gefinaliseer moet word, die Bank van Siprus wat die land se grootste verbandgewer is mag oorleef ten koste van Laiki Bank.