SAPD opgeleide lede nou hekwagte


Dit kos die regering miljoene Rand jaarliks om polisiebeamptes op te lei sodat die land ’n veiliger woonplek kan word.

Maar nou het ’n dagblad ontdek dat die deeglik en duur opgeleide taakmag lede van die polisie hekwagte by hul kantoor in Pretoria-Wes is.

“Die lede gaan deur ses maande se hoogs gespesialiseerde opleiding. Die polisie belê duisende Rand in die mense.
Nou moet hulle ’n hek oop- en toemaak,” het ’n bron gesê.

“Hulle is, ondanks al hul opleiding, basies veiligheidswagte. Dit is belaglik.”

Brig. Phuti Setati, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die bewaring van polisie-geriewe is ’n interne bestuurde funksie.

Waarnemers meen egter dat dit alles dui op wanbestuur en wanaanwending van kragte. Toy onlangs is honderde vuurwapens van die SAPD gesteel uit hul eie kwartiere. Miskien moet daar net ag geslaan word op die gehalte mense wat voortaan opgelei moet word, is gesê.