Olifant verniel polisievoertuig in Welkom


Die motorhawe personeel van die polisie in Welkom wou nie die storie glo wat vertel is deur Lt. Frik Meintjies dat ’n olifant die bakkie verniel het nie.

“Jy is seker gesuip gewees. Wat drink jy?” was die reaksie van die personeel.

“Waar kry jy ’n olifant in die middestad van Welkom? Jy is gek man!” was ’n tweede se reaksie.

Die nuwe bakkie, met minder as 2,000 km op die horlosie, se skade beloop duisende Rand.

Die sirkus is tans in Welkom en die twee mak olifante wei soos gewoonlik op die oop erf langs die tent.

Lt. Frik Meintjies was by ’n verhoor in die hof, en het naby die sirkustent stilgehou. ’n Vrugte- en-groentewinkel smous het ook daar parkeer met sy bakkie vol groente wat toe die olifante gelok het.

Nadat hulle die vrugte en groente verorber het, was die polisie se bakkie die aangewese ding waarteen die jukkerige lywe geskuur is.