Nuusflitse


• Twintig mense is in die hospitaal opgeneem nadat tornado’s ‘n dorp in die suidooste van Australië, 280 km noord van Melbourne, getref het.
• Dokters in Kanada het ‘n lem uit ‘n man se rug verwyder, drie jaar nadat hy met ‘n mes tydens ‘n bakleiery gesteek is.
• Drie jaar nadat ’n tandarts ’n vrou van Springs se kakebeen gebreek het terwyl hy haar tande getrek het, wag nog ’n operasie op haar en kan sy steeds nie normaal eet nie. Sy het nou ’n regsgeding teen die arts begin.
• Bain’s Cape Mountain Whisky, die eerste Suid-Afrikaanse enkelgraan-whisky, is Donderdag in Londen as die beste graan-whisky ter wêreld aangewys. Dit was tydens Whisky Magazine se jaarlikse World Whisky Awards (WWA).
• ’n Man (41) en sy vrou (33) is by hul woning in Winterfeldt buite Pretoria vasgekeer waar die polisie 30 sakkies dagga ter waarde va R50,000-00 gevind het, nadat die polisie op ‘n wenk gereageer het.
• Volgens amptenare in die Sentraal-Afrikaanse Republiek het die president, Francois Bozize, landuit gevlug nadat rebelle die hoofstad oorgeneem het.
• David Bithrey van Pretoria het homself as een van die land se talentvolste beeldsnyers bewys toe hy met sy hout-skoenlapper die jaarlikse Timber Games-houtsnywerkkompetisie gewen het.
• Die staking by Exxaro se steenkoolmyne is beëindig nadat ’n ooreenkoms met die National Union of Mineworkers (NUM) bereik is. Dit verlig kommer oor die beskikbaarheid van steenkool aan Eskom, wat reeds voorsien het dat die staking tot beurtkrag kan lei.
• ‘n Johannesburgse vrou is in hegtenis geneem nadat sy op die N1-Suid in Midrand gejaag het, het die metropolisie gesê. Die 33-jarige vrou is teen ’n spoed van 214 km/h in haar BMW betrap
• ‘n Groep toeriste wat ‘n haaiduik-ekspedisie na Gansbaai meegemaak het, het meer gesien as waarvoor hulle betaal het toe ‘n haai op hul hok afpyl. Die haai het aggressief geword en sy kop in die hok probeer gedruk. Volgens die kameraman, Bryan Plummer, het die haai die aas geïgnoreer en reguit na die hok gegaan. Niemand is beseer nie.
• Die moord op Alton Joja, die sangoma wat glo moetie aan die Marikana-mynwerkers gegee het voor die slagting op 16 Augustus verlede jaar, is ‘n reuse terugslag vir die Farlam-kommissie van ondersoek, het ’n polisiewoordvoerder, gesê.
• Die hooggeregshof in Pretoria het Moyo tot 62 jaar en Khumbalani Sibanda (32) tot 55 jaar tronkstraf gevonnis vir 15 aanklagte wat bankroof, ontsnapping uit aanhouding en geldwassery insluit. Die twee Zimbabwiërs het erken dat hulle ses banke in Pretoria, Rustenburg, Boksburg en Roodepoort van byna R268,000 beroof het.
• Die Afrika Unie het die Sentraal-Afrikaanse Republiek geskors en beveel dat sanksies teen die rebelleleiers ingestel moet word.
• Foto’s van The Beatles wat tydens ‘n konsert in 1965 deur ‘n amateur-fotograaf geneem is, is vir sowat R423,000 verkoop.
• ‘n Kaapse kleurling verpleegster is huis toe gestuur nadat sy sonder haar voortande by die werk opgedaag het. Sy beweer die hospitaal owerheid het gesê sy kan terugkeer werk toe as sy haar tande in haar mond het. Die valstande is glo by haar huis gesteel.