Nie koekies nie!


Die weermag van die Ruwe Suid-Afrika het nou weer die wêreldstandaard gestel in oorlogvoering. Daar is al gesê dat die lyn tussen dapperheid en onnoselheid bitter fyn is, amper so fyn soos die lyn tussen ‘n windjie en ‘n groot verleentheid die oggend na jy hoender op ‘n troue geëet het.

Die weermag noem wat in die Binne-in- die-middel-van-donker-afrika Republiek gebeur het dapperheid. Dit was baie dapper van die president om teen die aanbeveling van verskeie militêre kenners 250 blygemaakte sekuriteitswagte in ’n oorlog in te stuur teen 3000 gewapende rebelle!

Ek gee toe dat niemand hoegenaamd kon voorsien dat talle van hulle loodpille sou sluk nie aangesien hulle, baie duidelik aan almal betrokke, die naam van vredesmagte gedra het! Die rebelle behoort te weet dat hulle nie op vredesmagte moet skiet nie. Stoute rebelle, baie stout! Daardie rebelleleier moet onmiddellik ingeroep word na die Afrika Unie se hoofkantoor sodat hy met die skerp kant van ‘n houtliniaal taamlik hard op die kneukels gepiets kan word!

Daar is wel in eie kringe ‘n paar vrae te vra gegewe die geskiedenis wat opgeloop het tot die hele besigheid.
Die eerste is, gegewe die hele trop swanger vroue wat die weermag deesdae versamel, hoeveel soldate in die vredesmag was sooibrandlyende, voetbeswelde, rugpynende hoogswanger dames wat daar in afrika moes gaan rondwaggel?
Die tweede is, gegewe die feit dat Paarvinkel Goordam die ander dag die begroting gesny het by die lugmag se afdeling vir kelihopters en vegvliegtuie en die begroting vermeerder het vir die lumagafdeling wat die bbp-vervoer behartig, kon een van die ministers nie maar die klompie amper-mammas met ‘n straler gaan optel toe die dinge warm raak nie?

Verder verneem ek dat ons peperduur Gripen vegvliegtuie uitstekende toerusting aan boord het. Daar is nie geld om vir hulle wapens aan te sit nie, maar met die briljante toerusting sou hulle ten minste oor die hele petalje kon vlieg en aan die grondmagte ‘n baie duidelike boodskap kon gee van hoe diep hulle nou eintlik in die varkmis verkeer.

Hoe dit ookal sy, die onnoselheid van die grootkoppe het nou van ‘n klomp uitgelewerde sekuriteitswagte helde gemaak, afgestorwe helde, maar helde nietemin.

Iemand wat aan my baie dierbaar was het graag in hierdie tipe situasies ‘n gesegde gebruik, effe krasser as wat ek dit hier sal stel, dog met ‘n pragtige alliterasie van die k-klank. Hy sou sê: Ek ken die verskil tussen mis en koekies…en hierdie is nie koekies nie!

Tot volgende slag

Die Sweep