Majuba 2013 – ‘n Ware Fees


Die jaarlikse fees wat gehou word, ter herdenking van die Slag van Majuba,
is ‘n ervaring soos min. Die opgewondenheid in almal se harte is al ‘n week
voor die tyd duidelik sigbaar. Klein en groot trek op om die berg soos eens
dapper Boereheld uit te klim.

Soos kan verwag word was die RVB-dames weer op hulle pos en het trots met
skropborsel in die hand, hulle taak vir die naweek tot die beste van hulle
vermoë verrig. Een van die stalletjies is ook deur hulle beman.

Vanjaar se fees was egter iets heel besonders. Hierdie jaar het ons eie
Volksraad die fees georganiseer. Hulle het weer die goeie gees teruggebring
wat met die jare verdof het. Hoe het hulle dit reggekry, mag u dalk wonder?
Heel eenvoudig, hulle het al die aktiwiteite wat altyd ‘n wenner was,
teruggebring.

‘n Hoogtepunt vir almal was natuurlik die skyngeveg. Hierdie deel van die
program het die gebeure van daardie dag weer opnuut laat lewe kry.

Nog ‘n hoogtepunt was die optrede van allombekende sangeres Sunette Bridges.
Die Boerenooi het die feesgangers se harte weer lekker laat klop met haar
gepaste items wat opgevoer is.

Maar verby al die pret en plesier het daar ‘n diepe eensgesindheid geheers
onder alle feesgangers. Hier waar ons voorouers skouer aan skouer geveg het,
is ons volk een! Is dit nie juis om hierdie rede dat ons moet feesvier nie?

Soos tradisie dan ook bepaal, is daar die Saterdagaand ‘n Cantus gehou.

Claudia Beyers (‘n aktiewe lid van die Donkerhoek RVB) het ‘n baie waar
lewenswaarheid Sondagoggend met die feesgangers gedeel. Sy staan met ‘n
lekker koppie kampkoffie in die hand en vertel hoe sy die oggend gelees het
waar die Here feeste in die Ou Testament ingestel het. Sy sê ook dat dit haar
mening is, dat die Here wil hê ons moet meer feesvier. Hier sit ons as volk
aan die punt van Afrika en veg vir ‘n toekoms in ‘n land wat met bloed
gekoop is. Daar is menigte dinge wat teen ons tel, maar tog vind ons
daagliks rede om fees te vier! Elke jaar op Majuba vlam hierdie gees van
feesviering weer op. Vir diegene wat die fees bywoon is daar ‘n nuwe trots
en veglus in hulle harte. MAJUBA ‘n fees bo alle feeste! Kom laat ons
volgende jaar optrek, in al ons glorie en feesvier oor dit wat was, dit wat
is en dit wat nog mag kom!