Foutbal


Krieket:
Die Proteas het dit toe reggekry om Sondag die eendag reeks teen Pakistan te beklink. Dit was maar ’n wipplank ryery. Vrydag het die Suid-Afrikaners met drie paaltjies verloor wat Sondag se laaste wedstryd in die reeks die beslissende een gemaak het. Die Proteas se kaptein A.B. de Villiers, het ’n briljante beurt van 95 n.u.n gespeel, om die blommetjies met ses paaltjies te laat wen en so die reeks met 3-2 te beklink.

In die nuutste krieket ranglys wat Maandag vrygestel is, is Hashim Amla nog steeds die beste eendag kolwer, met A.B. de Villiers wat die tweede plek beklee. Daar is 3 S.A. boulers onder die top tien in die wêreld. Lonwabo Tsotsobe is in die vyfde plek terwyl Dale Steyn en en Morné Morkel gesamentlik in die agste plek op die ranglys is. Wat die spanne aanbetref is Indië in die eerste plek, gevolg deur Engeland, Australië en Suid-Afrika.

Sewes rugby:
Suid-Afrika se treurmare het die naweek voort geduur in die Hong Kong sewes toernooi. Hulle het in die halfeindstryd vir die bak 26-14 teen Engeland verloor. Die Blitsbokke het die toernooi begin deur met ’n 0-21 te verloor teen Argentinië. Daarna is daar met 12-21 teen Australië verloor, voordat hulle darem met 31-0 teen Wallis kon wen. In die bak kwarteindstryd kon hulle ook die Spanjaarde met 28-14 wen.
Die wenners was as volg:
Beker: Fidji 26-19 Wallis
Plaat: Samoa 12-7 Canada
Bak: Engeland 42-7 Hong. Kong
Skild: Frankryk 19-14 Argentinië

Super 15:
Die OP Konings het hierdie naweek met die harde werklikheid van Superrugby kennis gemaak. Op hulle eerste wedstryd op toer in Nieu-Seeland, het die Crusaders hulle met ’n allemintige 55-20 afgestof. Ek kan nou nie sê dat ek veel simpatie met Cheeky Watson se klonge het nie. Hierdie kan ’n lang toer word vir die Konings. Hulle volgende wedstryd is teen die Hurricanes in Wellington.

Noord-Transvaal het verskeie veranderings aan hulle span gemaak voor die wedstryd teen die Queensland Reds. Dit het hulle egter duur te staan gekom. Die Reds het met 23-18 gewen.

Die Vrystaat het vriend en vyand verras deur die laaste 3 wedstryde van sy 4 oorsese wedstryde te wen. Hulle is op pad huis toe na ’n 19-10 wen oor die Western Force in Perth. Dis die beste toer rekord vir die Vrystaat in hulle geskiedenis.

Die Westelike Provinsie het die Brumbies van Jake White oortuigend gewen. Hierdie is ’n groot oorwinning, aangesien die Brumbies na die vroeë gunsteling gelyk het met hulle spelpeil. Die telling was 35-22.

Die Natallers het in die eerste paar weke van die kompetisie gelyk na ’n span wat sukkel om die doellyn oor te steek. Hulle het meer as vergoed hiervoor deur 10 drieë te druk in hulle 64-7 oorwinning oor die arme Melbourne Rebels.

Ander uitslae:
Chiefs 19-7 Highlanders
Waratahs 30-27 Blues

Vodacom Beker Uitslae:
Wes-Transvaal 47-16 Suidoos-Transvaal
OP 18-43 WP
Natal 34-33 Vrystaat
Verre Noord 5-124 Griekwas
Transvaal 26-54 Noord-Transvaal
Pampas 45-26 Grens
Boland 12-44 SWD
Oos-Transvaal 64-7 Noord-Vrystaat