Ek sien dit so!


Neelsie het homself die afgelope naweek in die Noord-Vrystaat bevind. Dit bly darem maar ‘n skande hoe die paaie tussen die plattelandse dorpies verkrummel.

Let wel, ‘n skande en nie ‘n skok of ‘n gevoel van verbasing nie. Hierdie deel van die land loop die afgelope weke erg deur onder aanvalle en moorde, dis nie juis in die hoofstroommedia nie, maar gelukkig is diegene wat Die Vryburger gevind het, want julle sal kennis dra van dinge soos hierdie. Ons hoor van hierdie vreeslike dinge, ons is geskok vir ‘n wyle, en dan ploeter ons maar net weer voort asof daar nie ‘n volksmoord aan die gang is nie.

Na ‘n heel interessante geselsie met ‘n vriend van daardie geweste, leer Neelsie toe sommer wat dit werklik beteken om te sê: Nou is ons in Afrika! Volgens die vriend, is daar beeskrale opgerig nes jy Welkom binnery. Geagte lesers, om my te vrywaar van kwaadwillige aanvalle wil ek dit duidelik stel dat ek nie self hierdie krale gesien het nie, ek vertel bloot ‘n storie soos aan my vertel. Daar is buitendien geen rede om te twyfel in hierdie storie nie, aangesien ons immers: Nou in Afrika is! Dit was nou die een kant van ou Neels se verhaal, neem ‘n slukkie van daardie heerlike warm koffie op die tafel langs u, en lees dan rustig verder, ek sal ‘n rukkie vasbyt voor ek verder gesels…

Goed afgegaan? Mooi. Ons mense sal moet begin besef dat dit beter is om voorbereid te wees en niks gebeur nie, as om onvoorbereid te wees en die ergste tref. Daarom wil ek ‘n beroep doen op elkeen wat hier lees om hulself geestelik en liggaamlik voor te berei op die ergste. Indien die ergste nooit aanbreek nie, is daar tog niks verloor nie. Dan gaan ons weer aan. As enigiemand wat hierdie lees dink ek praat van die ergste wat met hul rugbyspan kan gebeur, is u uiters oningelig of uiters lief vir rugby. Miskien beide? Hoe dit ookal sy, Neelsie val julle nie aan nie, as julle Die Vryburger gevind het kan dinge net beter raak.

Neelsie sou dit dan soos volg opsom: Wees gereed en gekleed, eerder as vaak en naak!

Boeregroete,

Kordaat Neelsie