Chaos in Siprus


Duisende inwoners van Siprus onttrek hulle geld uit banke te midde van die Europiese Unie se drakoniese vereistes vir finansiële hulp aan die klein land.

In ‘n ooreenkoms met die EU wat Saterdagoggend vroeg gesluit is, moet die Sipriote ‘n eenmalige “premie” van tot 10% van hulle beleggings op die reddingspaket van 10 biljoen euro betaal.

Hoewel hierdie maatreël nog deur die regering goedgekeur moet word, het hulle reeds ‘n bankvakansiedag vir Maandag afgekondig en ‘n verbod op alle internet banktransaksies geplaas.

Woede hieroor heers in Siprus waar mense op allerhande maniere prbeer om hulle spaargeld uit die internasionale banke en IMF se kloue te hou. By monde van Jeroen Dijsselbloem van die Nederlande wat die voorsitter van die middernagtelike vergadering was, eis hulle ook dat belasting verhoog word en dat staatsbates geprivatiseer word.

Diegene met minder as 100 000 euro in hulle bankrekenings sal ‘n eenmalige “belasting” van 6.75% en die met meer sal 9.9% moet betaal.

“Politici en banke is in mekaar se sakke, maar nou moet die gewone man vir hulle gemors betaal,” het ‘n inwoner gesê.

Die Europese Unie het nou besluit dat die mense van Siprus verantwoordelik is vir die biljoene dollars slegte skuld en beleggings wat deur die regering en banke gemaak is. Voorts is hulle besig om gewone mense se geld te konfiskeer, aldus finansiële ontleders.

‘n Interessante verwikkeling is die feit dat president Putin van Rusland verlede Donderdag ‘n wet geteken het wat alle nuwe buitelandse banke verbied om takke in Rusland oop te maak. Ingeligte waarnemers beweer dat die banke in Siprus ‘n veilige belastinghawe vir Russiese miljoeners was. Hulle waarsku ook dat hierdie stap alle mense in die EU se lidlande senuweeagtig gaan maak.

Inmiddels het die regering van Siprus konflikterende berigte uitgereik. Hoewel hulle gesê het dat hulle nog moet besluit oor die nuwe maatreël, het hulle ook gewaarsku dat enige geld wat sedert Saterdag onttrek is, by die “belasting” getel sal word.